Intelligente waterbestuurstegnologie kan die antwoord op sommige van Suid-Afrika se wateruitdagings wees. Dit is die mening van Nicolene Steyn, een van die jongste PhD-studente by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Regte, wat glo dat slimtegnologie kan help om die reg op water te verseker.
Haar studie, ’n lessenaargebaseerde ondersoek van huidige bronne, is die eerste om intelligente waterbestuurstegnologie en die potensiaal daarvan te ondersoek om regsrelevante Suid-Afrikaanse waterdiensleweringsuitdagings in stede te hanteer.