NWU PUKfm ryg nominasies vir Radio-toekennings in

Dit is weer daardie tyd van die jaar waar die baanbrekers en en deurdrywers van die radiogolwe herkenning kry vir hul harde werk.

Die Radio-toekennings, wat uitsonderlike prestasies in die radio-industrie vereer, het onlangs 2021 se finaliste aangekondig.

NWU PUKfm 93.6, die radiostasie op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus, het weer eens sy slag gewys en het agt nominasies in die volgende kategorieë ontvang:

  1. Middag rytyd-uitsending: PUKfm Drive
  2. Ontbytuitsending: Big Bang Breakfast
  3. Ontbytuitsendingaanbieder: Khanyisile Mahlangu
  4. Ontbytuitsendingaanbieder: Charonike Nel
  5. Daguitsending: On The Go
  6. Daguitsending: Flashback Friday
  7. Aanduitsending: Local Top 30
  8. Nuusbulletinleser: Tshego Motsepe

“Dit mag dalk nie die meeste benoemings wees wat ons al gehad het nie, maar ek is baie dankbaar teenoor en trots op die span,” sê Charonike Nel, een van die genomineerdes en die stasiebestuurder.

“Hulle het sedert die eerste dag van die inperking vanaf hulle onderskeie huise uitgesaai, en vir ons om agt nominasies vir ’n jaar soos 2020 te ontvang, laat my hart van vreugde swel. Om by PUKfm te werk, is nie iets wat ons studente op ’n permanente basis doen nie – hulle doen dit benewens hulle studies, en is almal vrywilligers.

“Die feit dat hulle soveel moeite doen en steeds bly uitsaai in hierdie uiters moeilike omstandighede, is ’n geweldige prestasie. Ek haal my hoed af vir ’n span wat so ongelooflik hard werk.”

Die algehele wenners van die Radio-toekennings sal aangekondig word om 15:00 op 16 Julie, tydens ʼn aanlyn geleentheid wat via digitale kanale gestroom sal word.

Submitted on Tue, 06/22/2021 - 15:03