Liberale benadering oor die voorsiening van energie is goed vir beleggings

President Cyril Ramaphosa se aankondiging op 10 Junie oor die nuwe reëls met betrekking tot energieverskaffing in Suid-Afrika is goed vir beleggings.

Prof Raymond Parsons, ekonoom by die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê dat die meer liberale benadering tot die verskaffing van energie op ’n tyd kom wanneer die land die volle voordeel uit die huidige ekonomiese herstel moet put.

Die jongste stappe om beleggers uit die privaat sektor aan te moedig om in ingebedde opwekking te belê, is noodsaaklik om die voortgesette hoë koste van beurtkrag vir die Suid-Afrikaanse ekonomie te verminder, en om die stewige plafon wat dit jare lank al op die land se ekonomiese prestasie geplaas het, te verwyder.”

Prof Parsons sê hoewel hierdie intervensie vandag nie onmiddellike verligting vir beurtkrag sal bied nie, dit help om ’n vaste grondslag vir toekomstige kragsekerheid te lê.

Volgens hom erken die regering nou die mate waartoe die mislukking van Eskom om elektrisiteitsvoorsiening te waarborg baie ernstige risiko’s vir die Suid-Afrikaanse ekonomie ingehou het.

“Die regte oplossings het vir ’n geruime tyd reeds baie buigsamer energiebeleide vereis. Die verhoogde buigsaamheid wat nou verleen is aan die lisensiëringsdrumpel vir die opwekking van elektrisiteit deur dit tot 100 MW te verhoog, is dus ’n positiewe verrassing, wat die potensiaal het om gunstig vir beleggings en groei te wees.”

Hy sê  dat die aanmoediging van veelvuldige bronne van energievoorsiening kan ’n boodskap deurgee van die verligting van die langdurige krisis in Suid-Afrika wat die ekonomie aan bande gelê het.

“Die beklemtoning deur president Ramaphosa van die behoefte dat die maatreëls wat vandag aangekondig is doeltreffend en effektief geïmplementeer moet word – asook om aan ’n sekere tydsraamwerk te voldoen – is noodsaaklik en welkom.”

Volgens prof Parsons sal dit ook vereis dat die nodige kapasiteit by NERSA, op plaaslike regeringsvlak en onder ander belangrikebesluitnemers bestaan om die nuwe besluite te verhaas wat nodig is om energiesekerheid in Suid-Afrika ’n hupstoot te gee.

“Wat nodig is om hierdie doelwitte te bereik, is ’n seepgladde implementering, nie rompslomp nie. As hierdie nuwe speelveld op die energiefront vinnig en goed voorberei en oopgemaak word, het dit die potensiaal om ’n groot verskil te maak.”

Submitted on Fri, 06/11/2021 - 11:20