NWU ontvang gunstige graderings van internasionale agentskappe

Die Noordwes-Universiteit (NWU) sit sy indrukwekkende prestasie op verskeie wêreldwye ranglyste voort met ’n 120ste plek op die 2021 Times Higher Education (THE) Young University Rankings.

Die jongste THE Young University Rankings, wat op 23 Junie 2021 gepubliseer is, plaas die NWU onder die beste 120 uit meer as 475 universiteite wêreldwyd. Dit is die tweede keer dat die NWU op hierdie bepaalde ranglys – wat op universiteite van 50 jaar oud en jonger fokus – verskyn.

Die THE Young University Rankings sluit universiteite van verskeie lande in en gebruik 13 prestasie-aanwysers om hulle te evalueer.

Hierdie prestasie-aanwysers word in vyf areas gegroepeer: onderrig (die leeromgewing); navorsing (volume, inkomste en reputasie); aanhalings (navorsingsinvloed); internasionale profiel (personeel, studente en navorsing); en bedryfsinkomste (kennisoordrag). Die gewigstoekennings word vanaf THE se ander ranglyste herbereken om die profiel en missie van jong universiteite te weerspieël.

Vir meer inligting oor die Young University Rankings, besoek THE se webwerf by http://cwur.org/2021-22.php.

NWU is onder die room van die oes

Die jongste ranglys volg op die hakke van ’n posisie onder die topnege (9) beste Suid-Afrikaanse universiteite in die World University Rankings deur die hoëronderwysanaliste Quacquarelli Symonds (QS), wat op 8 Junie vrygestel is.

Hierdie ranglys deur die Londen-gebaseerde QS was die agtiende uitgawe. Hulle kyk na opnameresponse en harde data om ’n finale telling vir elke universiteit te bereken. QS doen dit deur ses aanwysers te gebruik, naamlik akademiese reputasie (40%); werkgewerreputasie (10%); student-tot-fakulteit-verhouding (20%); aanhalings per fakulteit (20%), internasionale fakulteitsverhouding (5%), en internasionale studenteverhouding (5%).

Vergeleke met verlede jaar het die NWU op drie van hierdie aanwysers verbeter. Dit is akademiese reputasie, werkgewerreputasie en aanhalings per fakulteit.

Aanhalings per fakulteit is die sterkste aanwyser vir die NWU en plaas die universiteit wêreldwyd in die 601+-kategorie. Dit meet die gemiddelde getal aanhalings wat per fakulteitslid verkry is en is ’n beraming van die impak en gehalte van die wetenskaplike werk wat deur universiteite geproduseer word.

Die akademiese reputasie word verkry van ’n jaarlikse opname wat deur QS uitgevoer word en wat die persepsies van akademici van regoor die wêreld ten opsigte van die beste instellings met betrekking tot navorsing evalueer. Die NWU is op grond van die response van 130 000 akademici wêreldwyd in die 501+-kategorie geplaas.

Die werkgewerreputasie-aanwyser word geneem uit die jaarlikse QS-opname wat fokus op die insameling van sienings van werknemers regoor die wêreld oor die instellings wat die beste vakkundiges lewer. Die NWU is op grond van die response van 75 000 werkgewers wêreldwyd in die 501+-kategorie geplaas.

NWU skitter gereeld op ranglyste

Die NWU het ook in die World University Rankings se Global 2000-ranglys en die THE Emerging Economies University Rankings in 2021 uitgeblink.

Die Center for World University Rankings (CWUR) het die NWU in hulle 2021/2022-uitgawe van die Global 2000-lys, wat op 26 April hierdie jaar gepubliseer is, in die top-4,7% van universiteite geplaas (lees meer

Die CWUR-ranglys volg op ’n top-100-plasing – en algehele sesde plek in Suid-Afrika – op die THE Emerging Economies University Ranking, wat in Maart hierdie jaar aangekondig is. Die THE-ranglys het die NWU in die algehele 97ste plek geplaas uit 606 universiteite wat aan hulle gradering deelgeneem het (lees meer:)

Die NWU het regdeur 2020 en 2019 gereeld goeie graderings ontvang (lees meer:).

Prof Dan Kgwadi, visekanselier en hoof van die NWU, sê dat die bestuur van die NWU geweldig trots is op al sy personeel, studente en ander rolspelers wat hulle deel doen om die NWU internasionaal te laat uitblink.

Hy sê die universiteit se toewyding aan uitnemendheid in navorsing en onderrig en leer is die gevolg van die NWU-familie se passie, toewyding en verbintenis.

“Ek wil herhaal dat hierdie internasionale erkenning as ’n bemagtiger vir die koestering van vennootskappe en internasionale samewerking dien, en dit ondersteun die NWU se droom om internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees. Die toekoms van nagraadse studies en navorsing sal deur transdissiplinêre navorsing, vennootskappe, samewerking en netwerke gedryf word.”

Submitted on Thu, 06/24/2021 - 09:53