Gebruik bestuurstegnologie om die grondwetlike reg op water te verseker

Intelligente waterbestuurstegnologie kan die antwoord op sommige van Suid-Afrika se wateruitdagings wees. Dit is die mening van Nicolene Steyn, een van die jongste PhD-studente by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Regte, wat glo dat slimtegnologie kan help om die reg op water te verseker.

Haar studie, ’n lessenaargebaseerde ondersoek van huidige bronne, is die eerste om intelligente waterbestuurstegnologie en die potensiaal daarvan te ondersoek om regsrelevante Suid-Afrikaanse waterdiensleweringsuitdagings in stede te hanteer.

Haar tesis by die SARChI-leerstoel in Stede, die Reg en Omgewingsvolhoubaarheid (Cities, Law and Environmental Sustainability, CLES), is onlangs onder die studieleiding van prof Anél du Plessis (bekleër van die SARChI-CLES-leerstoel) en prof Wian Erlank voltooi.  

Ingevolge die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika het almal die reg op voldoende water wat deur plaaslike regerings voorsien word. Dit plaas plaaslike regerings in ’n unieke posisie om te help om die reg op water ’n werklikheid te maak.

Die studie het deur die lens van die konstitusionele reg en menseregte gekyk na stede en hoe hulle die waterdienste kan verbeter wat hulle aan gemeenskappe lewer.  

Water in stede is onder druk

Stede beleef verskeie uitdagings in die verskaffing van toegang tot voldoende water aan gemeenskappe, insluitende vinnige bevolkingsgroei en verstedeliking. Nicolene het op vier spesifieke kwessies gefokus waaroor daar ook min navorsing is.

Die eerste uitdaging is nie-inkomstewater, wat water wat as gevolg van foutiewe rekeninge, diefstal en onderregistrasie van meters in stede verlore raak. In munisipaliteite word nie-inkomstewater op meer as 37% beraam, en dit is erger in talle besproeiingstelsels en munisipale voorsieningskemas, waar sommige verliese op 60% beraam word.

Die volgende uitdaging is onwettige watergebruik, waar verbruikers onwettige waterverbindings skep of omleidings om watermeters maak. In die eThekwini Metro is byvoorbeeld nie-inkomstewater van meer as 40% gerapporteer, waarvan amper 60% nie opgespoor kon word nie.
 
Die derde uitdaging het te doen met stede se gebrek aan relevante data, wat hulle nodig het om te verstaan waar hulle ten opsigte van dienslewering faal of slaag.

Die laaste uitdaging is die volhoubaarheid van die verskaffing van waterdienste. Wanneer stede nuwe water- en sanitasie-infrastruktuur installeer, word dit dikwels vervalle. Studies toon dat tot 50% van waterpunte binne twee tot vyf jaar wanfunksioneel is, wat mense dikwels sonder deurlopende of betroubare toegang tot water laat.

Hoe slimtegnologie die lekplekke kan help toestop

Nicolene stel intelligente waterbestuurstegnologieë as ’n moontlike oplossing voor. Ná ’n intensiewe literatuuroorsig het sy vasgestel dat intelligente waterbestuurstegnologieë as ’n multidissiplinêre term verstaan moet word, wat aspekte van slimwaterstelsels en infrastruktuur, die internet van dinge (IoT), IKT (inligting- en kommunikasietegnologie), datawetenskap, en grootdata insluit.

Hierdie tegnologieë kan breedweg toegepas word en vir beide beplanning- en bedryfsdoeleindes, en ook vir organisatoriese en beleidsbeplanning regoor veelvuldige sektore gebruik word.

Intelligente waterbestuurstegnologieë kan oplossings soos die opsporing van lekkasies in pype of meters toelaat, en so nie-inkomstewater verminder. Deur IKT te benut, kan data-insameling voorts meer doeltreffend gemaak word en die frekwensie van die monitering van waterbates verhoog en datafoute verminder wat gemaak word deur dit met die hand te kontroleer.

Die data wat vanaf IKT-stelsels ingesamel word, kan verwerk word deur datawetenskap te gebruik, wat inligting oor watergebruik in spesifieke areas wat tot munisipaliteite se beskikking is, asook oor die onwettige waterverbruik in sekere streke, op grond van die ontleding van watergebruik teenoor geregistreerde verbruikers kan aanvul.  

Die studie het voorts ambisieuse aanbevelings gemaak dat beleide vir stede, en planne wat spesifiek op nie-inkomstewater gerig is, ontwikkel moet word saam met nasionale regsinstrumente wat daarop gemik is om onwettige waterverbruik uit te skakel. Die studie beveel aan dat wette oor die insameling, verwerking en verskaffing van data ontwikkel moet word.

Nicolene erken dat empiriese navorsing nodig sal wees om vas te stel presies hoe Suid-Afrikaanse stede voordeel kan trek uit die gebruik van hierdie tegnologieë om diensleweringsuitdagings ten opsigte van water aan te pak, en die reg op water vir almal ’n werklikheid te maak.

Nicolene-Steyn
Nicolene Steyn is ʼn jong navorser wat glo dat slimtegnologie kan help om die reg op water te verseker.

Submitted on Tue, 06/15/2021 - 12:17