Terwyl die informele sektor honderde duisende mense uit armoede ophef, verhinder verskeie munisipale verordeninge die uitbreiding van hulle sakeondernemings, en skend in ’n mate hulle regte. ’n Navorser aan die Noordwes-Universiteit (NWU) glo dat ’n moontlike oplossing vir die beskerming en ontwikkeling van hierdie sektor by die Grondwet lê.
Nonhlanhla Ngcobo, ʼn PhD-navorser betrokke by die Suid-Afrikaanse Navorsingleerstoel (SARChI) in Stede, die Reg en Omgewingsvolhoubaarheid (Cities, Law and Environmental Sustainability) in die Fakulteit Regte, maak ’n paar voorstelle in haar studie getiteld “The informal economy for local economic development in South Africa: A Constitutional law approach”.
Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, gee vir die plaaslike regering die opdrag om ontwikkelingsgeoriënteerd te wees en om plaaslike ekonomiese ontwikkeling (PEO) proaktief te bevorder. Hoewel PEO nie uitdruklik in bylae 4B en 5B van die Grondwet gelys word nie, word daar kortliks in die oogmerke van die plaaslike regerings en in die ontwikkelingspligte van munisipaliteite daarvoor voorsiening gemaak.
Heenkomes hang van die informele sektor af
Die informele ekonomiese sektor is die steunpunt van PEO en die oorhoofse ekonomie van plaaslike gemeenskappe. Dit is veral belangrik omdat die informele ekonomie verantwoordelik is vir 18% van die bevolking in Suid-Afrika wat werk het. Straatverkope verseker byvoorbeeld dat ’n beraamde 813 000 huishoudings bokant die broodlyn leef. Netso beraam die Nasionale Ontwikkelingsplan 2030: Ons toekoms – laat dit werk (2012) dat informele handel, as ’n die vernaamste ondersteuning van PEO, teen 2030 tussen 1,2 miljoen en 2 miljoen werksgeleenthede sal produseer.
Ten spyte van hulle beduidende rol in ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling, ervaar straatverkopers steeds mishandeling deur plaaslike owerhede. Daar is dikwels gedwonge uitsettings, voortdurende konfiskering van hulle goedere, onwettige aandrang deur amptenare op omkoopgeld, en geen basiese munisipale dienste nie. Hierdie optrede is tipies van die onderdrukkende verhouding tussen straatverkopers en plaaslike regerings in Suid-Afrika.
Nonhlanhla se studie evalueer vanuit die Grondwet die wettige geldigheid van die huidige instrumente wat deur Suid-Afrikaanse stede vir die regulering van straatverkope gebruik word. Die studie kom tot die gevolgtrekking dat sommige bepalings in die instrumente wat gebruik word om straathandel te reguleer, stilswyend die voorskrifte van die Grondwet weerspreek. Die studie doen aanbevelings oor hoe sommige van die waardes en beginsels in die Grondwet die wyse moet rig waarop stede straathandel reguleer om PEO beter te fasiliteer.
Nonhlanhla was regdeur die studie deel van die Township-taakspan vir ekonomiese ontwikkeling, ’n navorsingsintensiewe projek oor die omvang waartoe die huidige munisipale regsraamwerk die ontwikkeling van township-ekonomieë moontlik maak of belemmer.
Die span word deur die SARChI-leerstoel in Stede, die Reg en Omgewingsvolhoubaarheid en die Suid-Afrikaanse Stadsnetwerk (SACN) gelei. Hierdie navorsing posisioneer die NWU as ’n innoverende instelling wat praktiese oplossings vir samelewingsprobleme soek.
Nonhlanhla hoop dat munisipaliteite deur hierdie studie en deelname aan taakspanne oor township- en informele ekonomieë verordeninge sal ontwikkel en daarstel wat informaliteit in Suid-Afrikaanse stede sal omarm.
Sy hoop dat die nasionale en provinsiale regering munisipaliteite sal help deur ’n konstitusionele regsbenadering in te neem om standaarde, norme en riglyne vir die ontwikkeling van die informele ekonomie, en straathandel in die besonder, te ontwikkel.
Nonhlanhla Ngcobo sê dat die informele ekonomie deur die Grondwet beskerm kan word.