Studie toon dat 45% van jong gegradueerdes meen dat hulle onderindiensgeneem is

Ná jare van die spreekwoordelike bloed, sweet en trane wat met studie gepaard gaan, kan die meeste gegradueerdes nie wag om met hulle loopbane te begin nie.  Met werkloosheid in Suid-Afrika so hoog as wat dit tans is, is dit nie altyd ’n gegewe dat jy jou droomwerk sal kry nie. Hoewel talle gekwalifiseerde gegradueerdes werk kan kry, is daar diegene wat onderindiensgeneem is.

Dr Precious Mncayi, ’n dosent by die Skool vir Ekonomiese Wetenskappe by die Noordwes-Universiteit (NWU), het ’n PhD-studie getiteld “An analysis of underemployment amongst young people in South Africa: The case of university graduates” uitgevoer.

Die doel van haar navorsing was om alternatiewe arbeidsmarkaanwysers, benewens die indiensneming- en werkloosheidskoers, te verstaan.  Sy wou veral onderindiensneming – wat voorkom wanneer ’n persoon nie voltyds werk nie of ’n werk aanvaar wat nie hulle werklike opleiding en finansiële behoeftes weerspieël nie – onder jong universiteitsgegradueerdes verstaan.

Haar oorkoepelende steekproef, ná data-opruiming, het bestaan uit 576 gegradueerdes van verskillende Suid-Afrikaanse universiteite wat almal onder die ouderdom van 35 jaar was.  Dr Mncayi het haar studie in 2017 begin en dit het 36 maande geneem om dit te voltooi.

Die meeste gegradueerdes het werk

Dr Mncayi het tydens haar meestersgraadstudie gevind dat universiteitsgegradueerdes hoofsaaklik in diens geneem is. Sy het dus vir haar PhD-navorsing gefokus op die verskillende tipes indiensneming en alternatiewe arbeidsmarkaanwysers soos onderindiensneming ontleed.

Die resultate van die studie het getoon dat 82,6% van die gegradueerdes in die steekproef óf deeltyds óf voltyds in diens was, terwyl slegs 17,4% nie werk gehad het nie.

Ten opsigte van onderindiensneming het dr Mncayi gevind dat ongeveer 45% van die deelnemers gemeen het dat hulle onderindiensgeneem is.
Sy het op drie hoofkategorieë van onderindiensneming gefokus: wat inkomste betref, wat die tyd wat hulle werk, betref, en wat vaardighede betref.

Onderindiensneming ten opsigte van inkomste en vaardighede was die algemeenste kategorieë, en het onderskeidelik 36,4% en 58,5% van die onderindiensgeneemde respondente uitgemaak. Slegs 5,1% van die gegradueerdes in die steekproef was onderindiensgeneem ten opsigte van tyd, wat beteken het dat hulle minder as 35 uur per week gewerk het.

“Diegene wat gemeen het dat hulle ten opsigte van vaardighede onderindiensgeneem is, het gemeen dat hulle oorgekwalifiseer is vir die werk, of dat hulle meer vaardighede en ervaring as hulle eweknieë in dieselfde werk het,” sê dr Mncayi.

Sy sê dat hoewel daar al baie navorsing oor werkloosheid in Suid-Afrika gedoen is, meer studies oor alternatiewe aanwysers in die arbeidsmark nodig is. Dit is ’n gaping wat dr Mncayi, met haar nuwe werk oor onderindiensneming, baie bekwaam is om te help vul.

Dr Precious

Dr Precious Mncayi is ’n dosent by die Skool vir Ekonomiese Wetenskappe. Klik hier om te hoor wat sy sê oor onderindiensneming.

Submitted on Tue, 06/15/2021 - 11:24