Ons eie bewese kundige by Metafact.io

Prof Cornelie Nienaber-Rousseau word deur Metafact, ’n aanlyn platform wat wetenskaplike inligting fynkam om slegs geverifieerde feite aan hulle gehoor te lewer, as ’n bewese kundige erken. Hulle missie is om mense in kontak te bring met betroubare bewyse oor vrae wat ’n impak op hulle lewens, samelewings en die wêreld om hulle het. Cornelie word sedert 2019 deur Metafact as ’n kundige erken toe hulle haar gevra het om ’n bydrae oor vrae ten opsigte van voeding en inflammasie te lewer. Sedertdien is sy ’n vennoot by Metafact en lewer op ’n gereelde basis waardevolle, bewysgebaseerde inligting.

In ’n onderhoud met Cornelie oor hierdie suksesse, deel sy met nederigheid haar storie: “My navorsingsreis het begin nadat ek in 2005 vir ’n honneursgraad in Voeding en toe in 2006 vir ’n meestersgraad in Voeding aan die Noordwes-Universiteit (NWU) ingeskryf het. My meestersgraad het voortgebou op die navorsing oor homeostase van my honneursprojek. Nadat ek my MSc-graad ontvang het, het ek met ’n PhD voortgegaan.”

Hoogtepunte in Cornelie se loopbaan sluit in die ontvangs van die Unilever-toekenning in voeding in 2010, ’n personeeluitruilprogram van die Europees-Suid-Afrikaanse vennootskap vir navorsing in voeding (European South African Partnership for Nutrition Research) nadat sy haar PhD voltooi het, en dat sy in 2018 deur die NWU se Skool vir Fisiologie, Voeding en Verbruikerswetenskappe tot medeprofessor bevorder is.

Sy geniet dit om artikels vir Metafact te skryf, aangesien sy voel dat dit deel is van haar bydrae aan die gemeenskap: “Ek is dankbaar teenoor Metafact, wat mense in aanraking bring met akkurate bewysgebaseerde gesondheidsinligting, wat my die geleentheid gee om ’n beter kommunikeerder oor wetenskap te word.”

Die onderwerpe wat Cornelie in Metafact bespreek het, sluit in:

            Help eiers om honger te onderdruk? (Do eggs help suppress hunger?)

            Het dieet ’n impak op vrugbaarheid? (Does diet impact fertility?)

            Verminder borrie inflammasie? (Does turmeric reduce inflammation?)

            Help appelasyn met gewigsverlies? (Does apple cider vinegar help with weight loss?)

            Is vitamine C-aanvullings nodig om gesond te bly? (Are vitamin C supplements necessary for maintaining good health?)

            Kan ’n vitamine D-tekort depressie veroorsaak? (Can vitamin D deficiency cause depression?)

            Maak multivitamiene jou gesonder? (Do multivitamins make you healthier?)

            Is daar ’n “vetsuggeen”? (Is there an “obesity” gene?)

            Is kunsmatige versoeters beter vir jou as hulle suiker-eweknieë? (Are artificial sweeteners better for you than their sugary counterparts?)

            Kan ’n oormatige suikerinname tot inflammasieverwante gesondheidskwessies lei? (Can excess sugar intake lead to inflammation-related health issues?)

Om nog van prof Cornelie se artikels te lees, besoek die Metafact-webwerf by www.metafact.io

Metafact het ook ’n toegewyde ruimte genaamd Consensus op hulle webwerf, waar talle onafhanklike kundiges op ’n gebied opsommings skryf wat die feite oor belangrike vrae weergee. Prof Cornelie is besig om ’n Consensus-artikel oor eiers en gesondheid te skryf, wat binnekort gepubliseer gaan word.

Ons is uiters trots daarop om ’n navorser van prof Cornelie se kaliber op die personeel van die NWU se Fakulteit Gesondheidswetenskappe te hê, en sien daarna uit om haar toekomstige ondernemings en suksesse te aanskou.

........

Prof Cornelie Nienaber-Rousseau

Submitted on Thu, 06/10/2021 - 16:18