Die regering het beperkte opsies gehad toe die inperkingsmaatreëls na vlak 4 opgeskuif is

“Die breë realiteite waarmee president Cyril Ramaphosa gekonfronteer word in sy soeke na die regte balans tussen lewens en heenkomes om die huidige ernstige derde golf van Covid-19 en sy deltavariant te hanteer, moet erken word.”

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), het in sy kommentaar op die verskuiwing van Suid-Afrika na vlak 4 van die inperking op 28 Junie gesê dat in die lig van waar Suid-Afrika homself nou met die pandemie bevind, die regering se opsies beperk was.

“Nietemin, die streng afdwinging deur die regering van bestaande regulasies en die beperking van getalle by riskante groot byeenkomste bly ook noodsaaklik indien die huidige ernstige pandemiesituasie omgekeer moet word.”

Volgens prof Parsons behoort hierdie stappe die vernaamste momentum te wees van wat verder nodig is ten opsigte van gedragskwessies wat belangrik is om die pandemie te hanteer, sonder dat dit nodig is om die ekonomie te sluit.

Hierdie verdere beperkings, so gou ná die vlak 3-inperkingsmaatreëls wat op 16 Junie ingestel is, kan egter nou steeds ’n nadelige ekonomiese uitwerking op sekere sektore van die ekonomie hê.”

Prof Parsons sê dat dit daarom jammer is dat daar geen aanduiding was van moontlike hernude ondersteuningsmaatreëls om die potensiële besigheidsprobleme en werksverliese teë te werk wat moontlik nou onder die terugkeer na ’n vlak 4-inperking kan ontwikkel nie.

“Die gasvryheids-, toerisme- en dranksektore is nou veral aan nuwe onsekerhede en terugslae onderwerp, wat moontlik nie ná 14 dae sal eindig nie. Hoewel daar ’n sterk algemene ekonomiese ‘herstel’ op pad is vanaf verlede jaar se -7%-BBP-groei, bly die ekonomie wankelrig. Talle besighede, veral KMMO’s, is steeds besonder kwesbaar in die lig van die ekonomiese skade wat uit vorige inperkings spruit, en hulle kan moontlik nie die jongste beperkings oorleef nie.”

Volgens prof Parsons is dit duidelik uit president Ramaphosa se toespraak dat ’n geslaagde verspreiding van die entstof nou die verskil moet maak.  

 “Die fundamentele oplossing lê dus nou in die bespoediging van die verspreiding van die entstof, saam met ander ekonomiese hervormings. ’n Vinnige verspreiding van die entstof wat die privaat sektor op ’n selfs groter skaal mobiliseer, is die een enkele ding wat nou ’n groot verskil in die lewens en heenkome van mense kan maak. Dit maak dit dan ook moontlik om inperkingsmaatreëls gouer eerder as later te verwyder.”

Hy sê dat daar nou genoeg wêreldwye bewyse is wat aandui dat hoe goed lande post-Covid-19 vaar, bepaal sal word deur hoe vinnig hulle ekonomieë en samelewings van hulle onderskeie inperkings kan herstel.

Submitted on Mon, 06/28/2021 - 11:29