Wiskundefoendi Thato droom daarvan om jongmense te bemagtig

Byname kan wreed wees, maar in die geval van Thato “Prof” Louw is dit beslis ’n aanduiding van ’n blink toekoms.

Vir die 24-jarige Thato – ’n derdejaarstudent in BSc finansiële wiskunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark – toon sy bynaam nie net sy kop vir syfers nie, maar ook sy passie vir die onderwys.

Thato het hierdie jaar op ’n hoë noot begin toe hy bygedra het tot die opstel en publikasie van twee akademiese studiegidse vir graad 12-leerders – in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe.

Dit is geen geringe prestasie nie, en toe hy gevra is wat hom gemotiveer het om so ’n yslike projek aan te pak, het hy geantwoord dat hy graag sy passie vir die onderwys met die volgende geslagte wil deel. “Ek het my liefde vir wiskunde en wetenskap ontdek toe ek op hoërskool was, en ek glo dat deur die mag van opvoeding jong leerders geïnspireer kan word om hierdie noodsaaklike maar uitdagende vakke ten volle te verstaan,” sê Thato.

Hierdie voormalige leerder van die Thuto Lore Comprehensive School se reis as onderwyser en mentor het begin toe hy maar net 16 jaar oud was en sy klasmaats gehelp het om wiskunde beter te verstaan.

Hy help vandag jongmense in sy gemeenskap wat met wiskunde sukkel, en hy spog ook met ’n YouTube-kanaal genaamd Edification Renders TV, wat hy gebruik om wiskundige probleme en konsepte met ’n breër gehoor te deel.

“Ek glo dat almal die potensiaal het om goed te doen in wiskunde,” sê Thato, en verduidelik dat niks in die lewe ooit te moeilik is as jy glo jy kan dit baasraak nie. Wiskunde gaan nie net oor getalle nie, maar ook oor probleemoplossingvaardighede wat jy op werklike lewensituasies kan toepas.”

En wat lê nog vir Thato voor? “Ek droom daarvan om my eie privaat skool te stig, asook om ’n onderrigkanaal op televisie te hê, en dat my studiegidse amptelike studiemateriaal vir alle graad 12-leerders sal word. Tot dan toe sal ek aanhou glo in die mag van opvoeding en my bes doen om wiskunde vir almal so toeganklik as moontlik te maak.”

Thato “Prof” Louw.

Thato gebruik sy YouTube-kanaal om wiskundige probleme en konsepte met ʼn breër gehoor te deel.

Submitted on Wed, 02/19/2020 - 12:52