Werkswinkel se doel is om studente se oorgang na die werkplek te vergemaklik

Die Skool vir Bedryfsielkunde en Mensehulpbronbestuur aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n werkswinkelwebinaar oor werksgereedheid vir derdejaar- en nagraadse studente (honneurs- en meestersgraad) regoor alle programme aangebied.

NWU-studente het op Dinsdag 12 Maart 2024 die jaarlikse werksgereedheid-werkswinkel op die Potchefstroomkampus bygewoon. Die webinaar se vernaamste doelwit was om die studente toe te rus met die nodige vaardighede en kennis wat hulle nodig het om ’n suksesvolle oorgang na die werksomgewing te maak.

Onder die vername sprekers was mev Olwethu Machine, bestuurder van die vroeëtalentafdeling by Kumba Iron Ore, en mev Rene Schreuder, die medestigter en besturende direkteur van Flink. Me Nombulelo Malunga, loopbaanontwikkelingspraktisyn by die NWU, en mev Telisha van der Merwe, medestigter en besturende direkteur by Flink, was die ander sprekers.

Me Debbie Mtshelwane, dosent en programleier vir Mensehulpbronnebestuur, het al die studente en hooggeagte sprekers verwelkom.

Mev Olwethu Machine het gepraat oor die vyf sleutelformules om loopbaansukses vir gegradueerdes te verseker wat hulle in florerende professionele persone sal laat verander, en sy het gesê dat studente krities moet wees wanneer hulle hulle loopbaanpaaie navigeer. “Dit is noodsaaklik dat ’n mens jou loopbaan doelbewus moet aanpak. Jy moet vasberade wees, bewus wees van wat gebeur en jouself as ’n handelsmerk beskou,” het sy bygevoeg.

Mev Telisha van der Merwe en mev Rene Schreuder het daarby aangesluit en ’n oorsig gegee van Flink. Hulle het beklemtoon hoe die organisasie gegradueerdes deur hulle psigometriese evaluering help om hulleself te optimaliseer, wat sal verseker dat hulle by die kultuur van die organisasie wat hulle in diens neem, sal inpas. Vir meer inligting oor Flink, besoek hulle webwerf by: https://flink-app.com/.

Me Nombulelo Malunga het volledige leiding gegee oor die opstel van omvattende CV’s en oor hoe studente hulle digitale teenwoordigheid kan bevorder en onderhoudstegnieke kan bemeester.

Me Polelo Moloi, die sakevennoot vir mensehulpbronne by LabourNet, mnr Frans Kutumela, hoof van Leierskap en Menseontwikkeling by Santam, mev Lesego Gwebu-Shelembe, die bestuurder van die program vir gegradueerdes by Nedbank, en me Bianca Botha, kliëntesuksesbestuurder by Wamly, was die ander sprekers wat aan die paneelbespreking deelgeneem het. Hierdie bedryfskundiges het tydens die bespreking waardevolle insigte verskaf oor die indiensneembaarheid van gegradueerdes, die verwagtings van die bedryf, voorbereiding vir die werkplek, en insigte in programme vir gegradueerdes en geleenthede vir internasionale werksgeleenthede.

Werktentoonstellings regoor die kampusse

Die volgende datums en plekke dui aan wanneer en waar die NWU werktentoonstellings sal aanbied:

· 9 April by die Tsebonokeng-saal op die Vanderbijlparkkampus

· 11, 17 en 18 April by die oop grasarea (Biblioteek-grasperk) regoor gebou E7 en F5 op die Potchefstroomkampus

· 16 April by Gebou N1 op die Ingenieurskampus in Potchefstroom

· 12 April by die grasperk van die Great Hall op die Mahikengkampus

Werksgereedheid-werkswinkels is steeds deurslaggewend in die universiteitsruimte, aangesien hulle leiding gee oor hoe studente hulle loopbane kan navigeer om by veranderinge in die arbeidsmark aan te pas.

.....

Probeer almal om gegradueerdes te produseer wat bedryfsgereed is.

Submitted on Tue, 03/19/2024 - 09:11