UARM verwelkom nuwe buitengewone professor

Die Sentrum vir Toegepaste Risikobestuur (UARM) gaan die Nederlandse navorsingspionier prof Gert Jan Hofstede as ’n buitengewone professor in sy midde verwelkom.

Prof Hofstede sal op 19 November 2018 sy prestigelesing by die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark lewer.

Die onderwerp van sy prestigelesing is “Artificial sociality: simulating the social mind”.

Meer oor die kundige

Prof Hofstede is ’n professor aan die Wageningen Universiteit in Nederland. Hy het al in die verlede (en beklee steeds) gasprofessorskappe by onder andere LSE, ETH Zürich, Hochschule Luzern, Uni Zürich, EHSAL Brussels, en TU Delft beklee.

Hy het deur die jare wyd en op verskeie gebiede gepubliseer, onder andere oor interaktiewe beplanningstelsels, simulasiespeletjies, vertroue en deursigtigheid in sakekettings, nasionale kultuur, en sosiale simulasie.

As ’n bevolkingsbioloog, ervare sagteware-ontwerper, sosiale wetenskaplike (wat in kultuur spesialiseer), en ontwerper van simulasiespeletjies en agentgebaseerde modelle, word prof Hofstede genooi om by konferensies regoor die wêreld as spreker op te tree.

Benewens sy gepubliseerde eweknie-beoordeelde artikels (Google H-index = 31) is hy ook die medeskrywer van die 2010-boek Cultures and Organisations, wat in meer as 20 tale vertaal is. Hy het ook ’n groot aantal simulasiespeletjies oor kultuur in ’n organisatoriese opset geskep.

Volgens prof Hofstede is sy langtermyndoelwit om die generiese dinamiek van die mens se sosiale gedrag uit te pluis. Sy standpunt is dat mense nie onvoorspelbaar is nie, maar dat hulle nie verstaan word nie. Hy gebruik simulasiespeletjies en sosiale simulasie as voorkeurmetodes wat kennis uit verskeie gebiede integreer om werkbare kennis te lewer wat in allerhande praktiese kontekste toegepas kan word.

Vir meer inligting kontak Lynn Booysen by 016 910 3410 of stuur ’n e-pos aan lynn.booysen@nwu.ac.za.

 

Prof Gert Jan Hofstede.

 

 

Submitted on Tue, 11/20/2018 - 08:26