Terseus Liebenberg as beste afrigter van afgelope drie dekades aangewys

  “Meester”. Dit is ʼn titel wat min beskore is. Top van die top, beste van die beste. Dis wanneer ʼn beroep ʼn roeping word en daarna tot ʼn kuns ontwikkel word. Terseus Liebenberg val gewis in dié kategorie.

Oor meer as drie dekades het sy kennis en vernuf atlete met talent geneem en hulle in wêreldsterre omvorm. 

In die onlangse 2021–2022 SA Atletiekjaarboek, ʼn publikasie van die SA Atletiekstatistici (SAAS), is Liebenberg deur die sportliggaam se uitvoerende komitee as die voorste afrigter van die hertoelatingsera aangewys.

“Sjoe, dit is ʼn geweldige eer. Ek is nederig dankbaar. Hierdie toekenning is ʼn groot motivering vir my. Dit is brandstof vir my afrigtingsvuur. Daar is soveel goeie afrigters wat benoem is, soos Martin Marx wat Hestrie Cloete afgerig het, en tannie Ans Botha. Hulle is rêrig fenomenale afrigters,” sê Liebenberg. 

Volgens SAAS was dit ʼn kwaai kompetisie tussen Liebenberg en Ans Botha, wat as die primêre afrigtingskrag agter Wayde van Niekerk se sukses beskryf word. Hoewel Van Niekerk as Suid-Afrika se beste atleet ooit beskryf word, het Liebenberg vir ʼn konstante stroom kampioene gesorg.

Dit sluit Marius Corbett in, wat in 1997 die Wêreldkampioenskap in Atene, Griekeland, asook die Statebondspele en Afrikakampioenskap in 1998, gewen het. Dan is daar Sunette Viljoen, wat by die Olimpiese Spele in 2016 in Rio de Janeiro silwer ingepalm het. Sy spog ook met twee Statebondspele- en vyf Afrikakampioenskaptitels. Haar lys prestasies kan ʼn boek vul. Nóg ʼn Afrikakampioen, Justine Robbeson, het genoeg medaljes ingepalm om ʼn boot te laat sink, Tazmin Brits is een van die land se bestes nog, en tans is Jo-Ané van Dyk, Waldo Smit en Johann Grobler besig om die wêreld aan die brand te gooi.  

“Ek is dankbaar vir al die atlete wat oor my pad gekom het. Ek is tans baie opgewonde oor wat Jo-Ané, Waldo en Johann nog gaan bereik. Elkeen is ʼn juweel en dit is ʼn voorreg om hulle af te rig.”

Sy afrigtingsfilosofie behels sweet, sweet en nogmaals sweet.

“Daar is geen kortpaaie vir sukses nie, net eerlike, harde werk. Elke atleet is ʼn individu en moet as ʼn individu hanteer word as ’n mens hulle tot hulle volle potensiaal wil help ontwikkel. Ek glo in goeie verhoudings met my atlete – daar is ʼn wedersydse respek vir mekaar.”

En podiums en medaljes en toekennings en louere hou aan instroom. 

....

 Jo-Ané van Dyk, Terseus Liebenberg en Clarissa Weyer.

Submitted on Fri, 06/03/2022 - 13:55