Taalbewustheidsweek is om die draai

Die Taaldirektoraat van die Noordwes-Universiteit (NWU) gaan op 28 Augustus sy jaarlikse Taalbewustheidsweek regoor al drie die universiteit se kampusse bekendstel.

Die tema van die week is “Multilingualism: The pathway to academic excellence through diverse resources”.

“Hierdie week gaan oor die viering van die taalkundige diversiteit van die NWU. Ons gaan ’n taalbewustheidsveldtog regoor al die kampusse hou. Elke kampus sal sy eie groep aktiwiteite hê om die taalontwikkeling te vier wat by die NWU plaasgevind het, terwyl almal van die geleenthede vir meertalige leer bewus gemaak sal word.

“Die NWU se Taaldirektoraat is besig om reusetreë ten opsigte van taal te gee, en ons wil hê dat ons studente dit saam met ons vier. Dit gaan uiteindelik oor ons studente en om hulle uiteenlopende tale en kulture na ons voorstoep toe te bring. Ons wil graag hulle almal vier. Ons wil ook ons studente aanmoedig om die warmte en rykdom van hulle kultuur met ander te deel, sodat ons almal iets by mekaar kan leer,” sê dr Keaobaka Seshoka, direkteur van die NWU se Taaldirektoraat.

“Die gebruik van meertalige benaderings tot onderrig en leer is die mees kritieke aspek van die NWU se taalbeleid. Die ondersteuning van meertaligheid in die klaskamer kan ook ’n waardevolle instrument wees wat studente se akademiese prestasie en sosiale en emosionele welstand positief kan beïnvloed.”

Kom ons begin met die meertalige pret!

Dr Keaobaka Seshoka.

Submitted on Thu, 08/24/2023 - 09:53