Studente-entrepreneurs meld vir oefenkamp aan

Om ’n idee in ’n florerende besigheid te ontwikkel, kan soos ’n onmoontlike taak voel, maar die Noordwes-Universiteit (NWU) verskaf die kundigheid en ondersteuning om voornemende entrepreneurs in die regte rigting te stuur.

Studente-entrepreneurs van al die fakulteite aan die universiteit het op 12 Mei aan ’n oefenkamp vir beginners/nuwe besighede en verdieners van ’n byverdienste deelgeneem. Die geleentheid was ’n samewerking tussen die NWU Tegnologie-oordrag en Innovasie-kantoor (TTIS-kantoor), die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (FEMS) en die NWU Besigheidskool. Dit het in Potchefstroom plaasgevind, met soortgelyke oefenkampe wat vroeër in Mahikeng en Vanderbijlpark gehou is.

“Die doel van die inisiatief is om entrepreneurstudente op te lei om ’n nuwe onderneming vanaf ’n idee te konseptualiseer en op te bou, om hulle aan die beskikbare aanlyn instrumente bloot te stel, en om hulle te leer hoe om hulle besigheidsidee aan potensiële befondsers voor te lê,” sê Hannes Malan, kommersialisasiebestuurder by die TTIS.

Die oefenkamp het ook aan die entrepreneurs die geleentheid gegee om by professionele persone te leer. Spesiale gassprekers het Mafani Gunguluza en Dumisani Sibanda van FNB se eenheid vir ondernemings- en verskaffersontwikkeling (Enterprise and Supplier Development [ESD] unit) ingesluit. Hulle het ’n werkswinkel oor ideevorming aangebied en hoe om vas te stel of jou idee die moeite werd is om te ontwikkel.

Verteenwoordigers van die TTIS-kantoor by die Tshwane Universiteit van Tegnologie, die Universiteit van Johannesburg, die Universiteit van Pretoria en UNISA was ook spesiale gaste. “Studente-entrepreneurskap is die nuwe gewilde onderwerp by universiteite, en tegnologie-oordragkantore het begin om idees te deel en notas te vergelyk oor hoe om hierdie geleentheid die beste te benut,” sê Hannes.

“Ons moet ’n platform bou vir ons studente om te leer hoe om hulle eie ondernemings te begin,” verduidelik Johan Gouws, dosent by die Skool vir Bestuurswetenskappe. “Oefenkampe is ’n eerste tree.” Johan het ’n aanbieding gedoen oor hoe om ’n voorleggingsverhoog (bemarkingsaanbieding) te skep en ’n blitsbekendstelling (’n kort e-pos met ’n opsomming van ’n besigheid) te doen.

Hierdie oefenkampe dien ook as voorbereiding vir die studentevoorleggingskompetisie, NWU Leopards Lair™, wat in Julie hierdie jaar begin.

....

Links na regs: Mense wat die oefenkamp bygewoon het, sluit in Lerato Mdaka (NWU Skool vir Bestuurswetenskappe), Yolande Bullock (NWU TTIS-kantoor), Johan Gouws (NWU Skool vir Bestuurswetenskappe), Mafani Gunguluza (FNB se ESD-eenheid), Thandi Maretlane (NWU TTIS-kantoor), Ayanda Noma (UNISA), adv Laurence Baloyi (Universiteit van Pretoria); dr Hamilton Mphidi (Tshwane Universiteit van Tegnologie). Agter is mnr Dumisani Sibanda (FNB); Hannes Malan (NWU TTIS-kantoor), Dibuseng Modise (TUT) en Basanda Pongoma (UNISA).

....

Mafani Gunguluza en Dumisani Sibanda van FNB se eenheid vir ondernemings- en verskafferontwikkeling was die belangrikste sprekers tydens die oggendsessie.

....

Dumisani Sibanda van FNB in aksie.

....

Mafani Gunguluza van FNB lewer ’n aanbieding met Kgaugelo Maripane van die TTIS wat toekyk.

 

Submitted on Tue, 05/16/2023 - 15:14