SOL stel Wiskunde- en Statistieksentrum in Vanderbijlpark bekend

Erken dit nou maar. Niemand hou daarvan om te erken dat vakke soos wiskunde, statistiek en programmering hulle slapelose nagte besorg nie. En erger nog, die vra van hulp kan ook nogal skrikwekkend wees. 

Hierdie hoofpyne is egter iets van die verlede danksy die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark.

SOL het onlangs ’n Wiskunde- en Statistieksentrum geopen waar een-tot-een-onderrig in ’n verwelkomende, vriendelike en ondersteunende omgewing aan alle studente gebied word. En die beste van alles? Die diens is gratis.

Die span van die SOL het onlangs die kampus ingevaar om die sentrum onder die studente te bevorder, en studente uitgenooi om die sentrum te besoek en die tutors en die sentrumbestuurder, Erna Bisschoff, te ontmoet. 

Volgens Erna verteenwoordig die sentrum ’n eenstop-leerkern en bied aan studente toegang tot ’n wye reeks tradisionele en innoverende leerhulpbronne om ’n beter begrip aan te moedig en die verkryging van kennis te bevorder.

Sedert die sentrum in Mei 2019 met sy dienste begin het, het die getal studente wat die sentrum besoek hand oor hand toegeneem. Voor die eksamen in Junie het meer as 300 studente reeds van die diens gebruik gemaak.

Erna voeg by dat die instapdiens van ander akademiese ondersteuningsdienste verskil in dié sin dat individuele aandag onmiddellik gegee word wanneer dit benodig word – teenoor studente wat vir geskeduleerde aanvullende onderrig (AO) of mentorskap en tutorsessies moet wag.

Besoek die sentrum vandag nog

Die Wiskunde- en Statistieksentrum is in kamer G10 in gebou 6, en is weeksdae van 08:00 tot 16:00 oop.

Meer oor die SOL-diensomvang

Die toegewyde span van SOL verskaf kundige ondersteuning en ’n praktiese benadering om studente op hulle pad na akademiese sukses te help. Deur ’n wye reeks ondersteuningsdienste soos leesontwikkeling, aanvullende onderrig, mentorskap en tutorskap word studente se sukses – insluitende toegang, retensie, verkryging en sukses – bevorder.

Vir meer oor die SOL-diens se repertoire, besoek hulle webwerf.

 

 

Die SOL-span op die kampus in Vanderbijlpark het onlangs ’n inligtingsveldtog gehou om ’n bewustheid vir die nuutgestigte Wiskunde- en Statistieksentrum te verkry

Erna Bisschoff, bestuurder van die Wiskunde- en Statistieksentrum.

 

Submitted on Tue, 09/10/2019 - 10:15