Wat lê in ’n naam? William Shakespeare wou dit al geweet het. ’n Jong navorser van die Noordwes-Universiteit (NWU) weet egter presies hoe belangrik ’n naam is. Daar word gesê dat sy tans die jongste taksonoom in die wêreld is wat besig is om hierdie parasiete te beskryf en hulle name – of die gebrek daaraan – te identifiseer.
Dr Anja Erasmus floreer daarop om die klein seespesies op te teken en belangrike inligting te lys wat gebruik word om hulle te identifiseer. Sy is een van slegs ’n paar aktiewe gnathiid-taksonome ter wêreld – die ander is in die Filippyne, Japan, Australië en Europa.
Wanneer sy oor die belangrikheid van haar navorsing nadink, sê dr Anja dat dit maklik is om te verduidelik. “Vir my is dit die grondslag van die wetenskap. Om iets te benoem, is waarop alles gebou is. As jy byvoorbeeld ’n spesie het wat probleme veroorsaak en sekere akwakultuurspesies aanval, is dit belangrik om eers die parasiet te identifiseer en te klassifiseer om sy gedrag en ekologie beter te verstaan. As jy kan vasstel wat dit is, sal jy weet hoe om dit beter te bestuur.”
As ’n postdoktorale genoot is dr Anja deel van ’n internasionale span wat onlangs ’n nuwe isopode-spesie, Gnathia jimmybuffetti, aan die Florida-kus van die Verenigde State van Amerika beskryf het. Die projek se vernaamste medewerkers was prof Paul Sikkel van die Universiteit van Miami en die NWU se prof Kerry Malherbe en prof Nico Smit. Dit was die eerste keer dat besonderhede oor hierdie spesie aangeteken is en dit is na die sanger-liedjieskrywer Jimmy Buffett vernoem.
Dr Anja se droom was nog altyd om ’n mariene bioloog te wees, maar sy het nooit kon droom dat sy eendag ’n nuwe spesie sal beskryf, dit as deel van haar navorsing sal illustreer, en ’n noodsaaklike bydrae tot die wetenskap van isopodes sal lewer en so haar loopbaan met haar passie vir kuns verbind nie.
In besonderhede, stukkie vir stukkie
Hoewel Anja nie enige fisiese monsterneming vir die bepaalde spesie gedoen het nie, het sy voorbeelde daarvan van die Miami-navorsers in die veld ontvang.
Dit was waar haar werk begin het. Sy het met ’n vaste hand en skerp oog vir detail die spesimen onder verskillende mikroskope ondersoek. Sy het met behulp van ’n differensiële interferensie-kontrasmikroskoop en ’n skanderingselektronmikroskoop in die laboratorium op die NWU se Potchefstroomkampus foto’s geneem en aantekeninge gemaak.
Die kunstenaar in haar het oorgeneem en sy het per hand akkurate en gedetailleerde illustrasies van die spesimen gemaak. Toe het die moeilike deel begin – sy moes die bitter klein (kleiner as drie millimeter) monster met ’n knyptangetjie en lemmetjie dissekteer. Haar kalm hande is deeglik getoets, aangesien die kleinste foutjie die monster kon beskadig of vernietig.
Daarna het sy die data en die meegaande illustrasie van die spesimen na ’n groter datastel oorgedra waar eienskappe van hierdie spesifieke isopode neergeskryf is en met ander bekende spesimens vergelyk is.
Almal lyk eenders, nie waar nie?
Die manlike en vroulike isopodes en hulle larwes lyk dikwels nie eenders nie, al is hulle van dieselfde spesie. Een van die effektiefste maniere om te weet aan watter spesie ’n spesimen behoort, is om hulle geneties met mekaar te verbind.
“Dit is waarom dr Anja se werk so belangrik is,” sê prof Kerry Malherbe, tans die voorsitter van die Parasitologiese Vereniging van Suider-Afrika (PARSA).
Prof Kerry en prof Nico Smit het Anja gehelp om die spesifieke tegnieke aan te leer, asook die ingewikkelde terminologie wat met hierdie soort werk verband hou. Met so min mense in die wêreld wat gnathiid-isopodes kan identifiseer en beskryf, en met verskeie kundiges wat nou byna aftree-ouderdom bereik het, is daar ’n groot behoefte aan hierdie spesiale vaardighede.
Volgens prof Kerry verg dit ’n baie spesiale persoon om die sketse akkuraat te maak en die vermoë te hê om die verskille in die spesies raak te sien. Dit is nie ’n werk waarvoor almal geskik is nie.
Vaardighede en entoesiasme gaan hand aan hand, en dr Anja het nie ’n tekort aan enige een van die twee nie. “Daar is ’n hele versameling van isopode-spesimens van hierdie en ander projekte wat nog beskryf moet word, dus is ons werk vir ons uitgelê, maar ons is heeltemal gereed vir hierdie uitdaging,” lag sy.
Wanneer sy nie isopodes beskryf nie, deel Anja haar ervaring deur vir honneursgraadstudente klas te gee as deel van die Afrika-visparasitologiemodule, sy lei studente op die gebied van taksonomie op en help met die databestuur van hulle groep se parasietversameling.
Dr Anja Erasmus (regs) saam met prof Kerry Malherbe. Dr Anja skryf tans ’n referaat wat op die lewensiklus van die vroulike isopode fokus – vanaf die larwestadium tot by die volwasse vroulike diertjie.