Prof Christa Rautenbach se harde werk oor regspluralisme en kulturele diversiteit het uiteindelik vrugte afgewerp toe sy in die hoogs kompeterende graderingsproses van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ’n B-gradering ontvang het.
Een van haar beoordelaars het opgemerk dat haar “navorsing betekenisvol is vir regspluralisme en ontwikkeling in ’n postkoloniale ontwikkelingsopset, waar regshervorming die voortgesette relevansie van inheemse wette in ag moet neem”.
’n Ander beoordelaar het haar werk as “baanbrekend in die byeenbring van regskulture en die bestudering van plurale regstelsels” beskou. ’n Derde beoordelaar het gesê dat haar werk wesenlik bydra tot die wêreldwye erkenning dat die regte van inheemse mense “konstruktief by plurale regstelsels ingesluit moet word”.
Prof Rautenbach is ’n regsprofessor in die Fakulteit Regte op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus. Haar primêre navorsing in regspluralisme het daartoe gelei dat sy as lid van die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie benoem is om die moontlikheid van ’n enkele huwelikswet te ondersoek. Die kommissie se ondersoek gaan waarskynlik ’n beduidende invloed op toekomstige huweliksbeleide en -wetgewing hê.
Intussen het haar internasionale blootstelling en erkenning deur die jare eksponensieel toegeneem. Prof Rautenbach se werk en uitstekende internasionale reputasie het haar op die boonste vlak van Suid-Afrikaanse regsakademici geplaas.
Die reg in Suid-Afrika is soos ’n koek met talle lae
“Die gemengde, pluralistiese aard van die Suid-Afrikaanse regstelsel spruit uit die multikulturele samestelling van Suid-Afrika se maatskaplike en geskiedkundige ontwikkeling,” sê prof Rautenbach. “Kulturele en godsdiensgemeenskappe woon naas mekaar volgens die norms en waardes wat oor die algemeen verskil van dié van die reg van algemene toepassing.”
Sy sê dat die uitdagings wat hierdie dinamiek na vore laat kom, seker maak dat sy nooit ’n vervelige oomblik beleef nie.
Haar navorsing fokus op die pluraliteit van die Suid-Afrikaanse regstelsel, wat sy met ’n laagkoek of met potjiekos vergelyk.
Sy verduidelik: “Die eerste laag is die algemene wette van die land, ’n Westerse stelsel wat bestaan uit elemente en eienskappe van ’n oorgeplante Romeins-Hollandse reg met sy sivielereg-oriëntasie, en Engelse reg.”
“Die tweede laag van die koek is gewoontereg (die wette van tradisionele gemeenskappe), wat oor die algemeen nie gedurende Suid-Afrika se apartheidsjare erken is nie. Dit is egter in sekere omstandighede toegepas. As gevolg daarvan het gewoontereg beperkte toepassing gehad ten opsigte van die mense vir wie dit gegeld het en die omstandighede waarin dit van toepassing was. Die situasie het vandag verander, en gewoontereg ontvang gelyke erkenning in die Suid-Afrikaanse Grondwet.”
Natuurlik kan twee regstelsels in een regsorde nie saambestaan sonder dat dit mekaar beïnvloed nie, en eietydse voorbeelde bestaan waar gemenereg en gewoontereg vermeng is, sê prof Rautenbach. “Die vermenging skep egter nie altyd ’n gelukkige situasie nie.” Haar navorsing fokus op die uitdagings wat hierdie “saambestaan van twee klaarblyklik gelyke regstelsels” na vore laat kom.
“Die verkryging van ’n B-gradering wat my internasionale prestasies erken, plaas ’n stempel van goedkeuring op baie jare se harde werk en regverdig talle eensame ure wat ek agter my lessenaar of op lughawens moes deurbring,” sê prof Rautenbach. “Ek is geweldig dankbaar teenoor my kollegas en die NWU wat my in staat gestel het om my drome na te jaag. Ek sal voortgaan om te probeer om in die jare wat voorlê my gradering te verbeter.”
Prof Christa Rautenbach.