Ranglys plaas vir die tweede agtereenvolgende jaar die NWU onder die topses plaaslike universiteite

Die THE World University Rankings het weer eens, soos verlede jaar, die Noordwes-Universiteit (NWU) onder die topses universiteite in Suid-Afrika geplaas. Die NWU word wêreldwyd tussen 501 en 600 geplaas uit meer as 1 600 universiteite uit 99 lande en streke wat vir die 2022-graderings geëvalueer is.

Die jongste ranglys van wêrelduniversiteite deur Times Higher Education (THE) bevestig weer die NWU se konsekwente prestasie op internasionale ranglyste.

Die THE het op Donderdag 2 September sy ranglys vir 2022 bekend gemaak. Dit is slegs die derde jaar dat die NWU aan die THE World University Rankings deelneem.

Die THE University Rankings word tot op hede as die grootste en mees diverse universiteitsgraderings beskou. Hulle kyk na navorsingsintensiewe universiteite regoor al hulle kernmissies, wat onderrig, navorsing, kennisoordrag en internasionale profiel insluit.

Volgens die THE gebruik hulle 13 noukeurig-gekalibreerde prestasieaanwysers om die omvattendste en mees gebalanseerde vergelykings te verskaf wat deur studente, akademici, universiteitsleiers, die bedryf en regerings vertrou word.

Die jongste ranglys deur die THE World University Rankings volg kort op die hakke van ’n algehele vyfde plek in Suid-Afrika op die 2021 Academic Ranking of World Universities (ARWU).

Prof Dan Kgwadi, visekanselier en hoof van die NWU, beklemtoon dat die prestasies op die ranglyste bydra tot die NWU se droom om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika en die wêreld te wees wat vir betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ’n sorgsaamheidsetiek bekend is.

Hy sê die toekoms van nagraadse studies en navorsing sal deur transdissiplinêre navorsing, vennootskappe, samewerking en netwerke gedryf word.

“Ons is baie tevrede met ons oorkoepelende prestasie in navorsing en onderrig-leer.  Ons kan die resultate sien van die implementering van ons strategie, waarin ons personeel op akademiese sowel as ondersteuningsgebied hulle tyd en kundigheid belê het.”

Vir meer inligting oor die 2022 World University Rankings, besoek:  https://www.timeshighereducation.com/world-university-rankings/2022/world-ranking#!/page/0/length/25/sort_by/rank/sort_order/asc/cols/stats

Om meer oor die NWU se indrukwekkende prestasies in die internasionale en nasionale ranglyste te lees, besoek: https://www.nwu.ac.za/rankings

Submitted on Fri, 09/03/2021 - 09:20