Postdoktorale genoot uit Maleisië sluit by Optentia aan

Internasionale postdoktorale genote speel ’n belangrike rol waar hulle aan die spits staan van navorsingsaktiwiteite by die Noordwes-Universiteit (NWU). Hierdie tipe internasionalisering ondersteun ook die NWU se strewe om deur uitnemendheid in innoverende leer en onderrig en baanbrekernavorsing vir die samelewing tot voordeel te wees.  

Die Optentia-navorsingsfokusarea het onlangs vir dr Jeniboy Kimpah as postdoktorale genoot verwelkom. Dr Kimpah het sy PhD in 2018 by die Universiti Sains Malaysia voltooi en sy tesis was ’n kruisdissiplinêre studie in Mensehulpbronnebestuur, Bedryfsielkunde en Nywerheidsverhoudinge.  

Dr Kimpah spog met ervaring in die privaat sowel as die regeringsektor in Maleisië en het onder andere as ’n administrateur en diplomatieke beampte in die Maleisiese Ministerie van Onderwys gewerk. Hy is tans ’n aflosonderwyser by ’n plaaslike skool, asook ’n onafhanklike navorser met navorsingservaring in mensehulpbronnebestuur en verwante gebiede soos oganisasiegedrag, sosiale sielkunde, bedryfsielkunde en nywerheidsverhoudinge.

Volgens dr Kimpah sou hy graag sy navorsingsbevoegdheid binne die Suid-Afrikaanse konteks wou uitbrei. As navorser is hy nuuskierig en gedrewe om betrokke te raak by indringende bedryfsgesprekke met betrekking tot mensekapitaaltendense soos leierskapstyle (deelnemende besluitneming) en bemagtiging (sielkundig en ten opsigte van die omgewing) wat werksprestasie kan beïnvloed.

 

Dr Jeniboy Kimpah.

 

Submitted on Thu, 04/02/2020 - 12:23