Ons eer jou, Jeandré Rudolph

Daar is losvoorspelers met die flair en die opwinding wat hulle meer flambojante broeders in die agterlyn beskore is. Hulle is die Kwagga Smiths en die Bobby Skinstads wat saam met die beste agterspelers kan vastrap en swenk. Hulle het ’n bedrieglike systap en sygladde hande, en hulle weet hoe om daardie behendige bewegings uit te voer wat die verdediging voor hulle laat oopmaak.   

Dan is daar die onbesonge werkesels. Hulle is die meedoënlose dieselenjins wat al hulle wringkrag by die afbreekpunte aanwend, wat hulle eie welstand met roekeloosheid op die spel plaas en hulle opponente verpletter. Dink André Venter en Corné Krige. Jeandré Rudolph val in laasgenoemde kategorie.

Rudolph sal vir altyd onthou word as die eerste kaptein van die Noordwes-Universiteit (NWU) wat die Varsitybeker-trofee omhoog gehou het. Op daardie heuglike aand van 11 April 2016 het Rudolph en sy manne aanslag ná aanslag afgeweer en aanval op aanval geloods om ná amper 10 minute oortyd met 7-6 te wen.

Rudolph het daarna die span vir nog drie seisoene aangevoer.

Hierna het hy by die Pumas aangesluit, vir wie hy ook by geleentheid as kaptein opgetree het. Hy is ook vir die 2020 Superrugbytoernooi vir die Bulle geleen, maar dit het egter as gevolg van die Covid-19-pandemie tot stilstand gekom.

Hy het in November 2020 ’n tweejaarkontrak met die Cheetahs gesluit, en sjoe, het hy nie sy kanse goed benut in Bloemfontein nie! Die 26-jarige het uitgeblink in die Curriebeker. Hy was alles en nog meer in kontakspel, ’n meester op die verdediging en ’n aanvalsmasjien by die afbreekpunte. Hy het geen genade betoon nie, en met elke spier, senuwee en vesel tot sy beskikking óf vorentoe gebeur, óf die vordering van die opposisie gestuit. Alle eer kom hom toe, en met goeie rede.

Nou het die professionele spelersorganisasie MyPlayers Rudolph as een van die Verdedigers van die Jaar en as die Voorspeler van die Jaar benoem. Dit getuig van ’n man wat die beste gebruik van sy talente maak.  

Hy het dalk nie al die flair in die wêreld nie, maar daar is geen plaasvervanger vir brute krag nie.

Foto: Juandré Rudolph.

........

Juandré Rudolph.

Submitted on Mon, 03/15/2021 - 13:30