Onderneming lei tot kitsklaaroplossings vir alledaagse probleme

Die Fakulteit Ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit (NWU) is trots op hulle baanbrekerinnovasies en -navorsing. Een van die fakulteit se interne korporatiewe ondernemings genaamd STRIDE is uniek in dié sin dat dit oplossings vir alledaagse uitdagings verskaf en dadelik gereed is om te gebruik.

STRIDE, wat in 2022 gestig is, het onlangs ’n nuwe handelsmerk gekry en is op 11 Junie by die Fakulteit Ingenieurswese op die Potchefstroomkampus bekend gestel.

JP van Deventer, die projekbestuurder, sê die onderneming vorm deel van die NWU se strategie om innovasie te bevorder en ’n derdegeldstroom-inkomste te skep. “Ons is daartoe verbind om verandering na te streef en kliënte se behoeftes doeltreffend te hanteer en kliënttevredenheid met naverkoopondersteuning en -diens te verseker.

Opwindende produkte toon STRIDE se innovasies

JP sê hulle het tans drie opwindende produkte. Die eerste is ’n mobiele osoonopwekker wat in mynvragmotors gebruik word om die vragmotors se kajuite periodiek skoon te maak, en die tweede is ’n statiese osoonopwekker wat in groter ruimtes soos lesingsale, klaskamers en rekenaarlaboratoriums gebruik kan word.

“Ons is ook baie opgewonde oor die derde produk, die MuscleMemory-toestel, sê JP. Hierdie toestel hou belofte in vir individue wat fisiese terapie moet kry, vir biokinetici, fiksheidsentoesiaste en navorsers in bewegingskunde. JP verduidelik dat die toestel gebruikers se oefeningkondisie evalueer en in staat is om belangrike parameters soos oorlading, besering en ondoeltreffende oefening te identifiseer.

Volgens JP het STRIDE amper 1 000 eenhede van die osoonopwekkers in sy eerste jaar verkoop en het reeds eenhede van die MuscleMemory-toestel verkoop, hoewel dit tans in sy betatoetsfase is om terugvoer van die mark te kry voordat dit vrygestel word.

“Ons spesiale fokus is op die verskillende kliënte wat die toestel kan gebruik, en die drie vlakke van die toestel sal teen die einde van die jaar vrygestel word as alles volgens plan verloop.” Vir meer inligting, kontak asseblief vir JP by jp.vandeventer@nwu.ac.za.

...

JP van Deventer, projekbestuurder, prof Liezl van Dyk, uitvoerende dekaan, prof Raj Siriram, waarnemende direkteur vir Sakeontwikkeling en Belanghebberbetrokkenheid vir die Fakulteit Ingenieurswese, en FR Bezuidenhout, senior sleutelrekeningebestuurder by Sakeontwikkeling en Belanghebberbetrokkenheid vir die Fakulteit Ingenieurswese, was tydens die bekendstelling van STRIDE teenwoordig.

fixed ozone generator

Die statiese osoonopwekker is ’n sanitasie-oplossing wat met ’n afstandbeheer werk.

muscle memory

MuscleMemory is veral van nut vir enigeen wat oefen.

 

Submitted on Mon, 06/24/2024 - 14:27