NWU Vanderbijlpark ondersteun KANSA Relay for Life

Die KANSA Relay for Life-inisiatief bied die geleentheid om kankeroorlewendes te vier, om die wat ons verlaat het, te onthou, en om bewusmaking oor kanker te skep. In kort: ʼn gemeenskapsgeleentheid wat spreek van ʼn gedeelde sorgsaamheidsetiek.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark sal vanjaar weer gasheer speel vir die Kankerverening van Suid-Afrika (KANSA) se jaarlikse Relay for Life-geleentheid in die Vanderbijlparkstreek.  

Dié geleentheid, wat die sewende jaar van samewerking tussen die kampus en KANSA sal vier, vind op 28 en 29 September 2019 op die kampusgronde plaas.

Die tema van die 2019-weergawe van die gebeurtenis is ‘Middeleeus’, en oud en jonk word genooi om daarvolgens aan te trek en so by te dra tot die feestelike atmosfeer waarvoor die geleentheid bekend is.

Meer oor KANSA Relay for Life
KANSA se Relay for Life is deel van ’n wêreldwye beweging wat kankeroorlewendes en die gemeenskappe wat vir hulle omgee, saamsnoer. Dit gee aan almal in ’n gemeenskap – oud en jonk – die geleentheid om aan die stryd teen kanker deel te neem, en diegene te eer wat deur kanker geraak word. Deur aan hierdie gebeurtenis deel te neem verbind elke deelnemer hom-/haarself tot die volgehoue geveg teen hierdie siekte, terwyl hy/sy dié wat teen kanker veg, trots ondersteun.

 

Die jaarlikse geleentheid verteenwoordig ‘n unieke gebeurtenis wat aan kankerlyers en hul naasbestaandes hoop bied.

Die kampus sal vanjaar die geleentheid vir die sewende keer aanbied.

 

 

 

Submitted on Fri, 05/17/2019 - 09:32