NWU se voetspoor brei uit na Maleisië

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het onlangs die eerste internasionale konferensie oor Bestuur- en Ontwikkelingsekonomie, in samewerking met die Universiteit van Kuala Lumpur (UniKL), aangebied.

Die konferensie, wat in Suid-Oos Asië op die eiland van Langkawi plaasgevind het, het deelnemers van Suid-Afrika, Indonesië, Maleisië, Pole, Indië, Pakistan en Hongarye verwelkom.

Volgens prof Danie Meyer van die Skool vir Ekonomiese Wetenskappe in Vanderbijlpark en een van die konferensieorganiseerders, was die konferensie gemik daarop om ʼn nadere samewerking tussen die NWU en UniKL te bewerkstellig. Dit het ook ten doel gehad om verdere internasionale netwerkgeleenthede in Asië en Maleisië te skep en sodoende navorsingsidees en beproefde praktyke te deel.

Die fokus van die konferensieprogram was op navorsingsvelde soos menslike interaksie, logistiek, ekonomie, toerisme, bestuurspraktyk, finansies, entrepreneurskap en bemarking. Verskeie navorsingsreferate is gelewer en verskeie onderwerpe is bespreek. Dit het ingesluit die impak van toerisme op die Maleisiese ekonomie, kernmotivering as ʼn bydraende faktor vir sukses in landelike entrepreneurskap in Westelike Indië, die geloofwaardigheid van die persepsies van Suid-Afrikaanse generasie Y-studente as leweraars van aanlyn kliëntekritiek, en die gebruik van wolkverwerking in klein- en mediumondernemings in Saudi-Arabië. Meer as 50 referate is gelewer.

Volgens prof Meyer het die sukses van die konferensie die weg gebaan vir die ondertekening van ʼn formele memorandum van ooreenkoms met die UniKL. Dit sal navorsingsamewerking en personeel- en studenteuitruilprogramme tussen die universiteite bevorder. 

 

Die afvaardiging van die NWU van links na regs: Dr Thys Swanepoel, Carmen Joel (UJ), prof Danielle Nel (UJ), dr Natanya Meyer, prof Danie Meyer, dr Luzaan Hamilton, prof Robert Magda, dr Heleneze Lues, prof Sebastian Kot, prof Beata Ślusarczyk en dr Marko van Deventer. Voor is Jacques de Jongh.

 

Submitted on Fri, 04/05/2019 - 09:32