Die swam wat ons brood laat sleg word, funksioneer nie op sy eie nie. Daar is gaste diep binne-in sy selle – bakterieë – waarmee dit ’n wedersyds voordelige verhouding het wat vir mense goed of sleg kan wees. Om hierdie verhouding te verstaan en dit te modifiseer, kan ’n geweldige impak op die voedsel-, mediese en landboubedryf hê.
Dit is die fokus van ’n vier jaar lange internasionale samewerking tussen die Noordwes-Universiteit (NWU) en twee universiteite in die Verenigde State.
Dit is deel van ’n nuwe toekenning wat prof Rasheed Adeleke, navorser en medeprofessor in mikrobiologie en grondwetenskappe aan die NWU, en sy Amerikaanse ampsgenote in staat stel om te bepaal hoe die swam-bakterie-verhouding bestuur kan word om te keer dat voedsel vinnig bederf, om siektes te bekamp en om beter voedselopbrengste te lewer.
Prof Adeleke sê dat die spesifieke swamme deur ’n bakteriële simbiose aangedryf word. “Ons ondersoek tot watter mate, indien enige, die groei van swamme deur die voorkoms en aard van hulle bakteriële simbionte beïnvloed word, en of dit behels dat bakterieë doodgemaak word of dat hulle in grootmaat geproduseer word. Ons wil vasstel tot watter mate die swamme op hulle eie kan oorleef en wat die implikasies daarvan is.”
Hy sê dit sal help om ’n paar konsepte te ontwikkel vir baie dinge – van beter babavoedsel en ander voedselaanvullings tot die verbeterde gehalte en kwantiteit van gewasse, soos onder andere tamaties.
Kennisuitruiling is die basis van samewerking
Die toekenning is ’n inisiatief van die regering van Suid-Afrika en dié van die Verenigde State. Dit word deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) in Suid-Afrika en die National Science Foundation in die Verenigde State geadministreer.
“Ek kan nooit my storie vertel sonder om die belangrikheid van die NNS in my loopbaan te beklemtoon nie. Hulle speel ’n belangrike rol in die ondersteuning van navorsers en ook om ons internasionaal sigbaar te maak.”
Die samewerking is tussen die NWU, die Cornell Universiteit en die Oregon State Universiteit in die Verenigde State.
Die mede-hoofondersoekers is prof Adeleke, prof Teresa Pawlowska, medeprofessor in plantpatologie en plantmikrobe-biologie by die Cornell Universiteit, en prof Jessie Uehling, assistentprofessor in botanie en plantpatologie by die Oregon State Universiteit.
“Ons gaan werkswinkels en besoeke aan albei lande reël as deel van die uitruiling van vaardighede en kennis. Ons gaan ook saam monsters insamel.”
Hoe drie groepe swamme ons kan help
Volgens prof Adeleke sal die internasionale studie op drie groepe swamme in die Mucoromycota-afstamming en hulle bakteriële simbionte fokus. Hierdie swamme is Glomeromycotina, Mucoromycotina en Mortierellomycotina. Interessant genoeg word hierdie swamme soms in sekere omgewings aangetref – ’n situasie wat deur hulle bakteriële simbionte beïnvloed kan word.
Glomeromyocotina is ’n unieke grondswam wat minerale voedingstowwe absorbeer en dit vir plantwortels beskikbaar stel, en dit kan dus ’n natuurlike vervanging vir minerale misstowwe bied.
Mucoromycotina is wyd bekend as brood- of suikerswamme en kan die seldsame en dodelike siekte mukormikose veroorsaak. Daar word gehoop dat ’n beter begrip van hierdie swam ’n betekenisvolle rol kan speel in die beperking van voedsel wat bederf.
Die derde groep swamme, Mortierellomycotina, word gebruik deur bedrywe wat babamelk en voedselaanvulling maak.
Jong navorsers word gekweek
Hy sê hy is veral opgewonde oor die opleidingsgeleenthede vir jong studente. “Ek het nog altyd daarin belang gestel om mense op te lei en ek is trots op die meer as 20 nagraadse studente vir wie ek tot dusver ’n mentor kon wees.”
Prof Adeleke het tans 16 studente in sy navorsingsgroep en glo dat sommige van hulle by hierdie samewerkingsgeleentheid baat sal vind. “Hulle sal die geleentheid hê om die VSA te besoek en saam met hulle eweknieë te werk.”
Hy sluit af dat die projek nie net daaroor gaan om nuwe oplossings te kry vir uitdagings in landbou, voedsel en medisyne nie, maar ook dat daar in jong navorsers belê word.
Prof Rasheed Adeleke sê dat die toekenning aan hom die geleentheid gee om sy navorsing oor swamme na ’n ander vlak te neem en sy navorsingsprofiel te bevorder.
“’n Mens kan baie idees vir navorsing hê, maar sonder die befondsing en ondersteuning is dit moeilik om dit van die grond af te kry. Dit is altyd ’n eer om saam met internasionale navorsers aan so ’n groot navorsingsprojek te werk.”