NWU-kanselier vir haar uitmuntende leierskap vereer

African Women in Business (AWiB) en Regenesys Business School het die kanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU) op 24 Augustus in Sandton tydens die toekenningseremonie by die AWiB se heel eerste konferensie met hulle gesogte Outstanding Leadership Award vereer.

Dr Anna Mokgokong, wat in 2019 as die NWU se kanselier ingehuldig is, het hierdie spesiale toekenning ter erkenning van haar entrepreneurskapsreis ontvang.  

AWiB bevorder leierskap, entrepreneurskap en ekonomiese groei vir vroue regoor Afrika. Daar was invloedryke sprekers by hierdie eerste konferensie en dit is deur meer as 200 afgevaardigdes van 14 lande in Afrika bygewoon. Volgens AWiB is hulle daartoe verbind om vroue in Afrika te ondersteun deur aan hulle geleenthede vir beleggings, leierskapsontwikkeling en entrepreneurskap te verskaf. AWiB se doelwit is om ’n positiewe verandering regoor die vasteland te weeg te bring. Die tema van die konferensie was “Breaking Barriers and Igniting Growth”.

“Dit is verblydend en laat my nederig voel om op so ʼn besonderse wyse deur my tydgenote van hier en in Afrika erken te word,” sê Dr Mokgokong.

Dr Mokgokong, wat die voorsitter is van die direksie en medestigter van Community Investment Holdings (Edms.) Bpk. (CIH) en Afrocentric, onder ander instellings, is ’n ware maatskaplike aktivis en het geweldige bydraes gelewer ten opsigte van die transformasie van maatskappye op wie se direksies sy dien. Sy is ook ’n senior direkteur van verskeie maatskappye wat op die Johannesburgse Aandelebeurs genoteer is.  Dr Mokgokong is beroemd vir haar baanbrekerswerk in gesondheidsorg, die akademie, handel en bestuur.  

Sy het al talle toekennings ontvang. Sy is onlangs by die Black Industrialists and Exporters-konferensie met die Legacy Award vereer. Dr Mokgokong het ook die Women Who Make A Difference-toekenning vir 2022 van die International Women’s Forum (IWF) ontvang.  

Die NWU-familie wens dr Mokgokong geluk dat sy hierdie welverdiende toekenning ontvang het.

Dr Anna Mokgokong tydens die toekenningseremonie.

Dr Anna Mokgokong tydens die toekenningseremonie.

Foto verskaf.

Submitted on Wed, 08/28/2024 - 15:00