NWU-geskiedkundige karteer die pad na Suid-Afrikaanse erfenis

’n Akademikus en geskiedkundige van die Noordwes-Universiteit (NWU) is deel van ’n gemeenskapsbetrokkenheidsprojek wat al Suid-Afrika se erfenisterreine en plekke van belang (POI’s) dokumenteer deur die ligging daarvan te lys en die betekenis van al die Suid-Afrikaanse POI’s op die Road Trip SA-app te verduidelik.

Emile Coetzee, dosent in Geskiedenis by die Skool vir Sosiale Wetenskappe in die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die NWU, sê dit is belangrik om die konteks oor geskiedkundige POI’s te gee om die betekenis daarvan vas te stel en die impak daarvan op en relevantheid vir die huidige Suid-Afrika te verstaan.

Hy het meer as vier jaar bestee om 2 783 geskiedkundige POI’s op die Road Trip SA-app te dokumenteer – en die getal neem steeds toe. “Dit is my manier om ’n bydrae tot die kennis van ons gemeenskappe te lewer. Dit is ’n reusetaak, maar ’n baie belangrike een, wat ek tydens my vakansies onderneem.”

Vir elke inskrywing op die app besoek Emile die POI, neem foto’s, voeg die koördinate by, en deur sy navorsing en kennis as geskiedkundige som hy die inligting op.

Hy sê die app is nie net vir toeriste nuttig nie, maar sal veral vir studente en skoolleerders help om die geskiedkundige feite te ontdek en ’n dieper waardering vir Suid-Afrika se geskiedenis te ontwikkel.

Inligting en app wys die weg aan

Emile se passie vir reis het reeds op ’n jong ouderdom begin. Hy was tydens sy voorgraadse studies een van die jongste toergidse in die land, en het onder andere saam met maatskappye soos Touch Africa Safaris gewerk.

Deur hierdie verbintenis dra hy nou sy foto’s en data tot ’n Suid-Afrikaanse erfenis- en toerisme-app, genaamd Road Trip SA, by. Hierdie mobiele app – wat by webkarteringsdienste en GPS-stelsels soos Google Maps geïntegreer is – wys vir gebruikers op hulle slimfone en ander toestelle watter POI’s in die omgewing is en hoe om daar te kom. Dit gee ook aanbevelings oor dinge om te sien en te doen wanneer hulle deur Suid-Afrikaanse stede reis.

“Ek is baie opgewonde oor die Road Trip SA-app. Die getal gebruikers het binne twee jaar beduidend toegeneem, wat ’n duidelike aanduiding is dat gebruikers die app interessant en nuttig vind.”

*Die Road Trip SA-app is vir Android- en Apple-toestelle beskikbaar en kan onderskeidelik deur hulle Play Store and App Store gekoop word. Vir meer inligting besoek: https://www.facebook.com/RoadTripAppSA of skandeer die QR-Kode:

....

Android toestelle

....

Apple toestelle

....

Emile Coetzee het sy passie vir geskiedenis en reis met die dokumentering van Suid-Afrikaanse geskiedkundige terreine gekombineer.

Submitted on Wed, 12/01/2021 - 08:30