NWU gee erkenning aan Comrades-helde

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het op Woensdag 7 September aan twee uitstaande persone vir hulle durf, vasberadenheid en deursettingsvermoë tydens die 2022 Comrades Marathon erkenning gegee. Dit het plaasgevind tydens ’n geleentheid waar uitgaande Raadslede vir hulle bydrae tot en dienste aan die NWU vereer is.  

Tete Dijana, wat werk vir Mi7, ’n sekuriteitsmaatskappy wat dienste aan die NWU en spesifiek aan die Mahikengkampus verskaf, het die wedloop vir mans gewen, terwyl dr Adele Broodryk, ’n senior lektor by die Skool vir Menslike Bewegingskunde van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, die eerste Suid-Afrikaanse vrou was om die 2022 Comrades Marathon te voltooi. Sy het ook die algehele derde plek in die afdeling vir vroue behaal.

Albei Comrades-helde is geloof vir die hoeveelheid publisiteit wat hulle vir die NWU ingebring het. Hulle het gesamentlik ’n gehoor van miljoene bereik, en hulle reklamewaarde was gelyk aan meer as R11 miljoen.

Ter erkenning hiervan het Dijana R120 000 en Broodryk R80 000 van die NWU ontvang.   

 “Ek is trots om te sê dat daar onder die 15 986 hardlopers uit 70 lande wat aan hierdie jaar se wedloop deelgeneem het, nege NWU-personeellede was wat meegeding het. Die verbintenis, toewyding, veerkragtigheid en prestasie van elke atleet word geloof. Ons is buitengewoon trots om met ons twee gouemedaljewenners, Tete Dijana en Dr Adele Broodryk, geassosieer te word. Tete en Adele is uitsonderlike handelsmerkambassadeurs van die Noordwes-Universiteit,” sê dr Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU.

Dr Tyobeka het verder verduidelik hoe hierdie uitstaande atlete as inspirasie dien. “Ons wens julle geluk – gaan voort om die NWU se vaandel hoog te laat wapper!”

Klik hier om na die geleentheid te kyk.

....

Kampioene! Tete Dijana saam met dr Bismark Tyobeka en dr Adele Broodryk.

Submitted on Mon, 09/12/2022 - 12:07