NWU Eagles haal halfeindstryd van Varsitybeker

Drama. Dit was die waarmerk van die NWU Eagles se mars tot die halfeindstryd van die Varsitybeker ná hul die CUT Ixias 35-32 Dinsdagmiddag geklop het.

Dit was ʼn taai tweestryd, soos die eindtelling getuig, met die uiteindelike wenners wat behoorlik moes walgooi om die heldhaftige Vrystaters te stuit.

Dit was die tweede keer in minder as ʼn week dat die Eagles op hul kanniedood-houding moes staatmaak nadat hulle Sondag, 23 Mei UJ naelskraaps met 33-29 geklop het.

Ná Sondag het die Eagles die vyfde posisie op die algehele punteleer beklee, net een punt agter CUT. ʼn Wen was dus ononderhandelbaar. Hierdie prentjie sou egter ietwat anders gelyk het as dit nie vir hul 42-36 nederlaag teen die toonaangewende UK Ikeys Donderdag, 20 Mei was nie. Hulle het egter ses drieë teenoor vier teen die voorste span op die punteleer gedruk.

Dit sal hul selfbeeld ʼn hupstoot gee wanneer hulle die einste Ikeys Vrydag, 28 Mei om 19:00 vir ʼn plek in die eindstryd aandurf. Die Kapenaars was tot dusver niks minder as uitsonderlik nie en sal die Eagles tot die uiterste beproef.

Maar, soos breier André Pretorius se troepe al menige male gewys het, moet hulle nie afgeskryf word voor die eindfluitjie geblaas het nie.    

........

Die Eagles se uitsonderlike slot, Jeandré Leonard, duik oor vir een van sy twee drieë teen CUT. Foto: ASEM Engage Photoshelter

Submitted on Wed, 05/26/2021 - 15:12