NWU bied suksesvolle Internasionale Konferensie oor Sosiale Wetenskappe aan

Die 10de Internasionale Konferensie oor Sosiale Wetenskappe (ICSS), wat onlangs in Vanderbijlpark plaasgevind het, is net nog ’n uitstekende voorbeeld van hoe die Noordwes-Universiteit (NWU) ter wille van akademiese vordering met internasionale vennote saamwerk.

Die konferensie verteenwoordig ’n dinamiese samewerking tussen die NWU se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en die Sosiale Wetenskappe Navorsingsvereniging in Turkye, en verteenwoordigers van regoor die wêreld het dit bygewoon.

Meer as 150 navorsingsreferate en opsommings is tydens hierdie driedagkonferensie aangebied.

Volgens dr Natanya Meyer, die konferensie-administrateur, was die doel van die jaarlikse konferensie om ’n wye gehoor van akademici, beleidmakers en professionele praktisyns byeen te bring om ’n debat oor duidelik gedefinieerde onderwerpe aan te moedig, die deel van kennis te fasiliteer, en netwerke vir toekomstige samewerkende projekte te bou. 

Sy voeg by dat hierdie eendersdenkende individue binne verskillende interdissiplinêre en multidissiplinêre omgewings funksioneer en as sodanig kritiese denkers en kundiges wat wêreldwyd verbind is, verteenwoordig.  

Meer oor die konferensieprogram

Prof Dr Dileep Kumar van UNIES in Nederland was die hoofspreker by die konferensie. Hy het sy kundigheid oor gemengdemetodenavorsing met die teenwoordiges gedeel. Tydens ’n prekonferensiewerkswinkel het hy gefokus op verskeie aspekte wat met navorsingsfilosofie en -ontwerp verband hou, die behoefte aan gemengdemetode-navorsingstegnieke, die praktiese toepassing daarvan, asook die uitdagings wat met hierdie navorsingsmetode verband hou.

Temas vir bespreking het die volgende ingesluit: entrepreneurskap en besigheid, openbare bestuur, onderrig en leer, mensehulpbronne, bemarking, aanbodkettingbestuur, armoede en maatskaplike kwessies, risikobestuur, landbou, finansiële bestuur en gesondheid en veiligheid.

 

Prof Babs Surujlal (medevoorsitter van die konferensie), prof Dileep Kumar (hoofspreker), dr Natanya Meyer (konferensie-administrateur) en prof Herman van der Merwe (medevoorsitter van die konferensie).

 

 

 

 

Submitted on Mon, 09/16/2019 - 09:30