Die Noordwes-Universiteit (NWU) het die bekende sakeleier en entrepreneur dr Anna Mokgokong se tweede termyn as kanselier bevestig.
Dit is op 12 Maart tydens ’n luisterryke geleentheid in Potchefstroom bevestig nadat die NWU Raad haar vir ’n verdere vyf jaar verkies het. Dr Mokgokong se eerste termyn het op 20 November 2024 verstryk.
As kanselier dien sy as titulêre hoof van die NWU, en al die kwalifikasies wat deur die universiteit toegeken word, word formeel deur haar toegeken.
“Dit is vir my ’n eer om die geleentheid gegun te word om vir ’n tweede termyn as kanselier van die NWU te dien,” sê dr Mokgokong. “Dit gee vir my die kans om voort te gaan om die NWU te dien. Terwyl ek nou met my tweede termyn begin, staan my doelgerigtheid en vasberadenheid vir wat ons saam moet bereik so sterk soos altyd. Ek is gretig om aan die nalatenskap te bou wat die bewys van my dienstydperk sal wees.”
Dr Mokgokong sê sy glo dat geen werk ooit werklik afgehandel is nie. “Ons kan altyd beter doen, beter wees, en hoër mik. Ons kan altyd harder werk – want dit waarvoor ons werk, is groter as onsself. Hierdie oortuiging was nog altyd ’n kenmerk van my loopbaan, en dit sal steeds in die jare wat voorlê vir my die rigting aandui.”
Luisterryke entrepreneursloopbaan
Sy is die medestigter en uitvoerende voorsitter van Community Investment Holdings (Edms.) Bpk., wat in 1995 gestig is en waarvan die eienaars almal swart is. Dr Mokgokong is ’n ware sosiale aktivis wat geweldige bydraes gemaak het ten opsigte van die transformasie van maatskappye op wie se direksies sy dien.
Benewens die bydrae van haar uitvoerige sakekennis en insig aan die NWU, het sy op verskeie direksies gedien van verskillende maatskappye wat op die JSE genoteer is, en ook as president van die South African Women Entrepreneurs Network (SAWEN).
Dr Mokgokong, ’n voormalige president van die International Women’s Forum of South Africa (IWFSA), is in 1998 tot die Women Entrepreneurs of the World – ’n onafhanklike, internasionale netwerk van die wêreld se magtigste en suksesvolste entrepreneurs – toegelaat.
Sy het deur die jare talle toekennings ontvang, waarvan die jongste dié is van die African Women in Business (AWiB) in vennootskap met Regenesys Besigheidskool, wat tydens die heel eerste AWiB-konferensie se toekenningseremonie in Augustus 2024 die gesogte Outstanding Leadership Award aan haar oorhandig het.
Dr Mokgokong het ’n BSc-graad aan die Universiteit van Botswana, en ’n MBChB aan die Mediese Universiteit van Suid-Afrika verwerf. Sy is die eerste vrou om ’n eredoktorsgraad in handel van Unisa te ontvang.
Mnr Bert Sorgdrager, voorsitter van die Raad, het dr Mokgokong met haar herverkiesing gelukgewens en sy dankbaarheid uitgespreek vir die aktiewe rol wat sy binne die NWU-gemeenskap vervul. “Die kanselier van die universiteit moet ’n spesiale persoon met spesiale vaardighede en spesiale eienskappe wees. Jy kan nie net enige persoon neem en hulle die kanselier maak nie, Dit is ’n unieke rol wat ’n unieke persoon verg, en die NWU is só gelukkig om jou te hê, dr Mokgokong. Ons bedank jou werklik daarvoor.”
Prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU, sê van die oomblik wat dr Mokgokong die kanselierskap aanvaar het, was sy meer as bloot ’n seremoniële figuur. “Sy is ’n aktiewe krag in die vorming van die NWU se strategiese rigting. As wêreldwye erkende entrepreneur het sy haar invloed laat geld om die NWU as sleutelspeler in innovasie, navorsing en ontwikkeling te posisioneer.”
Hy sê haar visie stem naatloos met die NWU se missie van akademiese uitnemendheid, maatskaplike impak en wêreldwye betrokkenheid ooreen.
“Haar verbintenis tot die vorming van betekenisvolle vennootskappe het nuwe weë vir die NWU geopen en het ons verhouding met talle bedryfsvennote, staatsentiteite en baie ander medewerkers versterk.”
Volgens prof Tyobeka is dr Mokgokong se strategiese leierskap een van transformasie vir die NWU, veral vir studente in die gesondheidswetenskappe, en meer onlangs ook vir MBA-studente.
“Sy is deur ons Vroue in Leierskap-program die mentor vir vele vroue en verseker dat die NWU in ’n ruimte is waar alle talent floreer. Sy gaan deur haar uitgebreide netwerke voort om die universiteit se openbare profiel te verbeter en maak seker dat kritieke beleggings en vennootskappe verkry word wat studentesukses verseker. Haar betrokkenheid by die bevordering van die NWU Mediese Skool is deurslaggewend om die stigting van die skool te versnel, en haar inspanning lewer beduidende resultate op.”
Mnr Bert Sorgdrager, voorsitter van die Raad, Dr Anna Mokgokong, kanselier, en Prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier tydens die bevestiging van Dr Mokgokong se tweede termyn as kanselier.
Navrae: Willie du Plessis, Kommunikasiespesialis: 082 590 0692
Hanna McDonald, Community Investment Holdings (Edms.) Bpk.: 083 805 3691