NWU beloon vir uitnemendheid in Sedibeng-distrik

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het dit weer gedoen! Dié kampus het vir die negende agtereenvolgende jaar die Professional Management Review (PMR) se gesogte Diamond Arrow-toekenning vir uitnemendheid in hoër onderwys in die Sedibeng-distrik ontvang.

Die toekenning is by die PMR.africa-sakeontbyt in Vereeniging oorhandig en belangrike besluitnemers, sakelui, lede van die regering, en akademici van die Sedibeng-streek het vir die toekennings byeengekom. Die doel van die jaarlikse toekenningsgeleentheid is om lede vir hul toegewydheid tot die ekonomiese groei en ontwikkeling van die streek te beloon.

Prof Linda du Plessis, adjunk-visekanselier vir beplanning en vir bedrywighede op die kampus in Vanderbijlpark was die hoofspreker en het in haar toespraak gefokus op die leierskapsuitdagings en -geleenthede wat met die vierdie industriële revolusie geassosieer word.

Sy het voorts die ontvangers van toekennings geloof vir die rol wat hulle in die gemeenskap speel en almal aangemoedig om eties handel te dryf, te belê in tegnologie wat waarde toevoeg en, om ‘n kultuur van lewenslange leer te vestig. “As ‘n eenheid is dit binne ons vermoë om die toekoms van die streek, die provinsie en uiteindelik ook die land positief te verander,” het prof Du Plessis gesê.

Die Sedibeng-streek sluit die munisipaliteite van Emfuleni, Lesedi en Midvaal in. Die streek is as groeipunt en potensiële beleggingsarea vir internasionale en plaaslike ontwikkelaars en beleggers geïdentifiseer.

Meer oor PMR

PMR.africa verskaf graderings en identifiseer sterk punte en swakhede terwyl hulle maatstawwe vir sakeondernemings, die regering, professionele lui, opvoeders en die arbeidsektor produseer.  Hierdie unieke strategiese intelligensie, wat van groot waarde is vir ontleders, beleggers, finansiers en voornemende kliënte, word aan topgegradeerde maatskappye in verskillende streke in Suid-Afrika aangebied. Arrow-toekennings word in die volgende kategorieë gemaak: diamant (wat die hoogste gradering verteenwoordig), goud, silwer en brons.

Dr Sibusiso Chalufu, uitvoerende direkteur vir studentelewe, het die toekenning in ontvangs geneem.

Submitted on Mon, 02/03/2020 - 14:59