NWU-alumna gaan heel eerste Wetenskap agter Sportdag aanbied

“Sport het die mag om die wêreld te verander. Dit het die mag om te inspireer. Dit het die mag om mense op ’n manier te verenig soos min ander dinge kan doen. Dit praat ’n taal wat almal kan verstaan. Sport kan hoop skep waar daar net wanhoop was.”

Hierdie kragtige woorde deur wyle president Nelson Mandela is vandag steeds waar en vorm die hoeksteen van Lerato Maqena se professionele etos as gekwalifiseerde sportwetenskaplike. Lerato, ’n alumna van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark, staan as professionele konsultant aan die hoof van die Qena-sportwetenskapakademie.

Lerato werk deur die akademie om kliënte (wat verskeie hoëprofielsportklubs insluit), te help om hulle fisiese prestasie te verbeter en om hulle psigologiese bekwaamheid te versterk. “Sport verteenwoordig ’n hoë-impakinstrument vir ontwikkeling en is steeds ’n kragtige manier om maatskaplike verandering te verkry,” sê Lerato, en voeg by dat sy daarmee in gedagte op 29 Julie 2017 die heel eerste Wetenskap agter Sportdag by haar alma mater gaan aanbied. Lerato wil deur hierdie inisiatief studente op die gebied van sportwetenskap en sportbestuur aan bedryfskundiges blootstel en ’n platform skep vanwaar studente en professionele sportlui netwerke kan vorm.

Wetenskap agter Sportdag
Die wetenskap agter Sportdag sal die vorm van ’n seminaar aanneem en die program sluit verskeie hoëprofielsprekers in, insluitende:

•    Israel Hlengani
Hlengani is ’n ervare krieketspeler en tans fiksheidsinstrukteur en afrigter by die City of Ekurheleni Krieketklub. Voor sy uittrede uit die eersteklasspel aan die einde van die 2014/2015-seisoen het hy 166 plaaslike wedstryde vir Easterns in die drie formate van die spel gespeel, wat terugdateer tot met sy debuut in 2005/2006. As linkerhandse kolwer en stadige linkerhandse konvensionele draaibalbouler het Hlengani 2 025 lopies aangeteken en 184 paaltjies geneem – waarvan 108 eersteklaspaaltjies was, en waarvan hy in twee van die wedstryde vyf paaltjies ingeoes het.

Hlengani het ook twee agtereenvolgende somers in Engeland gespeel, eers vir Norfolk Alliance se afdeling 1-klub, Hales and Loddon (2010), gevolg deur ’n skof in die Birmingham and District se Premierliga Afdeling 2 vir Fordhouses (377 lopies teen 22,17 en 29 paaltjies teen 20,89).

•    Songezo Sonamzi
Songezo Sonamzi is die stigter en voorsitter van die DiG-stigting (Developing International Golf-stigting) – Suid-Afrika. Gebore en getoë in Umtata in die Oos-Kaap, het Songezo na die VSA vertrek om sy loopbaan daar as gholfjoggie te begin. Met ’n merietebeurs van die gholflegende Gary Player, het Songezo as ’n professionele PGA-speler van die PGA van Amerika gekwalifiseer. As speler en sportontwikkelaar het hy sy lewe daaraan gewy om die sport na minderbevoorregte jong Suid-Afrikaners te bring.

Songezo is ook ’n professionele PGA Klas AA-speler van Suid-Afrika en is een van slegs ’n handjievol spelers wat sertifisering in Amerika sowel as Suid-Afrika het.

•    Christa Flora Kgamphe
Christa is ’n voormalige Future Coach-wenner en talentvolle sokkerspeler – eers by die Universiteit van Johannesburg en tans by die Mamelodi Sundowns-sokkerklub.

•    Keneilwe Mathibela
Keneilwe, ’n voormalige Banyana Banyana-kaptein, is die stigter en direkteur van die maatskappy Maestro’s Sports Development and Consulting. Sy is ’n professionele sportwetenskaplike en afrigter en spog met ’n SAFA- asook ’n CAF A-lisensie. Sy is in 2012 as die wenner van die Future-kampioenskapafrigterskursus aangewys en tree as mentor, instrukteur, fasiliteerder en konsultant op.

•    Annerine Wenhold
Annerine Wenhold, wat al verskeie keer die Masters-wêreldkampioenskap vir baanfietsry gewen het, het die eerste Suid-Afrikaner geword wat die gesogte UCI-afrigtingsdiploma in Aigle, Switserland voltooi het.

Wenhold, wie se toekennings agt wêreldkampioenskapmedaljes – waarvan vyf goud was – insluit, asook 38 nasionale fietsrymedaljes en 11 nasionale baanfietsrekords, is ook ’n afrigter vir verskeie hoëprestasie-fietsryers en ’n voormalige spanleier van die nasionale baanfietsryspan.

Bespreek jou plek vandag nog!
Die seminaar is oop vir alle geregistreerde studente, afrigters, sportadministrateurs en professionele atlete. Kaartjies kos R150 per persoon. Vir meer inligting besoek asseblief die Qena-sportwetenskapakademie  se Facebook-bladsy.

* Lerato het in 2015 gegradueer nadat sy die Sertifikaat in Sportwetenskap suksesvol voltooi het.

 
Submitted on Thu, 07/06/2017 - 09:07