Noordwes se drie topmatrikulante sluit by die NWU aan

Die top drie akademiese presteerders wat in 2021 in Noordwes gematrikuleer het, gaan in 2022 aan die Noordwes-Universiteit studeer.

Francois Pieterse van die Hoërskool Ferdinand Postma in Potchefstroom, Michelle le Roux van Potchefstroom Gimnasium en Marlé Siebert van die Hoër Meisieskool in Potchefstroom gaan almal vir die duur van hulle studies die NWU se kampus in Potchefstroom hulle tuiste noem.

Pieterse, wat ’n gemiddelde van 95,8% met agt onderskeidings behaal het, gaan Rekenaar- en Elektroniese Ingenieurswese studeer, terwyl beide Le Roux (gemiddelde van 94,3% en nege onderskeidings) en Siebert (gemiddelde van 92,7% en sewe onderskeidings) Aktuariële Wetenskappe gaan studeer.

“Dit is ’n voorreg om die top drie matrikulante van 2021 by die Noordwes-Universiteit te hê, maar dit geld ook vir elkeen van die duisende eerstejaarstudente wat in 2022 by die NWU ingeskryf het. Dit is ’n getuigskrif vir die universiteit se reputasie, nie in die provinsie alleen nie, maar ook in die land. Ons kan deur ons buitengewone onderrig- en leerprogramme, ons navorsing van wêreldgehalte, lewendige studentelewe en toegewyde personeel vir hulle ’n studente-ervaring sonder weerga bied,” sê Piet Steyn, Bestuurder: Studentewerwing aan die NWU.  

....

Marlé Siebert, Francois Pieterse and Michelle le Roux

Submitted on Thu, 03/03/2022 - 10:12