News24 kies NWU-innoveerder as ’n Jong Mandela

Die nalatenskap en impak van voormalige president Nelson Mandela om mense se lewens ten goede te verander, is steeds iets om na te streef.

News24 het onlangs hulle Jong Mandelas vir 2024 gekies – en vier ’n nuwe geslag jong kampioene wat daartoe verbind is om die Suid-Afrika van Madiba se drome te bou.

Ian Thomson, ’n PhD-student en dosent in die Fakulteit Ingenieurswese van die Noordwes-Universiteit (NWU), is een van hierdie 30 buitengewone jongmense wat vir hulle merkwaardige prestasies gekies is.   Hy is as die wenner in die innovasiekategorie aangewys.

“Ek glo werklik dat hierdie toekenning nie net aan my moes gegaan het nie, maar aan die NWU se hele navorsingspan vir hulptoestelle wat onverpoosd werk om seker te maak dat ons innovasies pionierswerk en betroubaar is. Ek is so trots op wat ons tot dusver bereik het, en ek is verskriklik opgewonde oor dit waarmee ons tans besig is, terwyl ons voorberei om ons toestelle en prosteses op die internasionale verhoog ten toon te stel.”

Afrika-toestelle vir Afrika-toestande

’n Lewensveranderende motorfietsongeluk op hoërskool het die verlies van Ian se regteronderbeen meegebring. Hy het nie toegelaat dat hierdie tragedie hom verhinder om sy drome na te jaag nie en het dit in ’n missie omskep om ander mense se lewens te verbeter. Ian het sy navorsing daaraan toegewy om bekostigbare, toeganklike en gevorderde prosteses vir geamputeerdes te ontwikkel.

 “Van die toestelle was tans op die mark is, is nie net verskriklik duur nie – party daarvan kan tot ’n miljoen rand kos – maar is nie spesifiek vir Afrika en ons unieke behoeftes aangepas nie. Daar is ook nie baie instandhoudingsondersteuning in die meeste gebiede in Afrika vir hierdie oorsese ontwerpe wanneer mense dit eers begin gebruik nie.”

Ian en sy kollegas het regdeur Suid-Afrika gereis en prostetici besoek om uit te vind wat die spesifieke behoeftes is.  “Ons het hierdie inligting gebruik om ons ontwerpe te ontwikkel. Die volgende fase sal wees om Afrika verder binne te gaan en prosteses en hulpmiddels vir die res van die vasteland te ontwikkel.”

News24 sê Ian is nie net ’n ingenieur nie. Die mediagroep beskryf hom as ’n visionêre persoon wat daartoe verbind is om die lewe in Afrika te verbeter – een innovasie op ’n keer.  

“Sy reis weerspieël ’n diepe toewyding aan diens en ’n onbuigsame gees van deursettingsvermoë, wat hom waarlik die beliggaming maak van wat Mandela voorgestaan het.”

Op pad na die 2024 Cybathlon

Ian se innovasies gaan spoedig by die 2024 Cybathlon Challenge in Switserland uitgestal word, waar hy as die “loods” vir die NWU Eagles-span sal dien.

“Dit is baie opwindend. Ons fokus nou daarop om seker te maak dat alles vir hierdie geleentheid gereed is,” sê Ian.

Die Cybathlon is ’n internasionale geleentheid wat toon hoe gevorderde ingenieurswese gebruik kan word om hulptoestelle vir alledaagse gebruik te skep.

Vir meer inligting oor Ian en die NWU se reis na die Cybathlon, besoek: https://news.nwu.ac.za/engineers-track-take-local-innovations-cybathlon-switzerland.

........

Ian en sy span se doel is om te verseker dat hulle baanbreker-innovasies by hierdie jaar se Cybathlon skitter.

......

Ian Thomson, ’n 29-jarige PhD-student in Ingenieurswese aan die NWU, is ’n baken van innovasie en aanpasbaarheid. Foto: Picture Café.

Submitted on Mon, 07/29/2024 - 13:28