Chroom uit mynaktiwiteite is in hoë konsentrasies gevind in plantspesies wat gewoonlik in huistuine in Sekhukhuneland, Limpopo, gekweek word. Dit is ’n potensiële gesondheidsgevaar.
Dit is van die bevindings van Sutapa Adhikari, ’n doktorale student aan die Noordwes-Universiteit (NWU), wat die besoedeling van voedsel- en medisinale plante deur chroom- en platinummynstof in Sekhukhuneland bestudeer.
Haar studie is gefokus op gemarginaliseerde mense wat in die besoedelde gebiede woon, en waar sy hoop om die NWU se kundigheid uiteindelik aan te wend om tot voordeel van hierdie landelike gemeenskap te wees.
Sutapa het in haar studie 16 nuttige plantspesies uitgesonder wat algemeen in huistuine gekweek word of van die landerye af versamel word. Bewyse van chroomstofneerslag op blare is gevind by 67% van die plantspesies wat geëvalueer is.
’n Beduidend hoër neerslag van chroomstof het met die morfologiese eienskappe van die plante, soos hulle hoogte, groter blaaroppervlakke, en wasagtige en harige blare verband gehou, sê sy.
Die studie het ’n vergelykende ontleding van chroombesoedeling by ongewaste blaarmateriaal ingesluit. Chroomkonsentrasies het by albei tipes blare die internasionaal toelaatbare vlakke wat vir voedsel- en medisinale plante vereis word beduidend oorskry. Uiters gevaarlike chroomneerslae, Cr(VI), is by ongewaste blare aangetref.
Noemenswaardige kankerwekkende en niekankerwekkende gesondheidsrisiko’s is ten opsigte van verskeie giftige elemente, insluitende chroom, vir blaarmateriaal beraam. Mense wat in die omgewing van myne in Sekhukhuneland woon, word dus aan vele gevaarlike elemente blootgestel wanneer hulle besmette plantblare, hetsy gewas of ongewas, eet.
“Plantblare wat in die omgewing van aktiewe myne, ferrochroomsmelterye en uitskotareas ingesamel word, moet deeglik met skoon water gewas te word om die inname van stofdeeltjies wat chroom kan bevat, te beperk,” sê Sutapa.
“Langdurige inname van chroom kan vel- en gastroïntestinale probleme veroorsaak, en die lewer en niere beskadig.”
Laastens stel sy voor dat ’n groter getal nuttige plante in Sekhukhuneland ondersoek moet word, veral uit besoedelde huistuine, om seker te maak dat die veilig gebruik word. Menslike gesondheidsrisiko’s ten opsigte van mynstofbesoedelde plante moet op nasionale vlak prioriteit geniet.
Sutapa Adhikari by die Dwarsrivier Chroom-erfenisterrein.