Malan moker die lopies

Dit is amper presies twee jaar sedert ’n besondere talent tot sy reg gekom het. Janneman Nieuwoudt Malan het op 3 Februarie 2019 sy internasionale T20-debuut vir Suid-Afrika teen Pakistan op tuisbodem gemaak.

Op net 22 jaar oud het hierdie jongman die grootmens-krieketwêreld betree. Die wêreld het sy eerste blik van Malan gekry, maar vir die Noordwes-Universiteit (NWU) was hy nie net welbekend nie, hy was ook geliefd. Ons kom nou daarby.

’n Jaar later maak hy sy debuut in ’n internasionale eendagwedstryd vir die Proteas teen Australië, en teken ’n nulletjie aan. ’n Onoortuigende begin vir sy eendagloopbaan as daar ooit een was. Hy het egter in die volgende beurt teen die Aussies daarvoor vergoed deur 129* te moker. Verskoning aanvaar.

Dié 24-jarige van Nelspruit het sedertdien in drie internasionale eendagwedstryde en vyf T20’s gespeel. Dit is in die korter weergawes van die spel waar sy onmiddellike toekoms lê, aangesien hy op die oomblik ’n bietjie laag op die ranglys is vir ’n plek in die toetsspan.

Sy jongste eendagwedstryd was op 14 Februarie teen Pakistan in Lahore, waar hy 27 lopies aangeteken het – die tweede meeste ná David Miller se 85*. Dit was egter tevergeefs.

Hy was op sy beste vir sy franchise, die Cape Cobras, in die 50-boulbeurtformaat. Op sy bekende tuisveld in Potchefstroom het hy ’n onoorwonne 69 vir die Cobras teen die Warriors aangeteken, en saam met sy broer Pieter het hulle regdeur die beurt vir ’n klinkende oorwinning gekolf.

Die grondslag vir sy sukses is by die NWU gelê, waar hy die universiteit se onbetwiste ster-kolwer was. Tydens die Red Bull Kampuskrieket se wêreld-eindstryd in Colombo, Sri Lanka, was hy die toplopiemaker met 259 lopies. Dit was nie net die meeste lopies wat tydens die toernooi aangeteken is nie, maar die NWU het uiteindelik die toernooi gewen en is dus as die beste universiteitskrieketspan in die wêreld aangewys. Hy het ook 13 sesse gemoker in die NWU se Varsity Krieket-veldtog van 2017, wat hulle gewen het.  

Met dié dat hy die NWU gehelp het om krieket se mees gesogte pryse in te palm, lyk dit al hoe meer of dieselfde prestasies in sy eie loopbaan op hom wag. Pakistan se toer in Suid-Afrika vind in April plaas en drie eendagwedstryde en vier T20’s sal gespeel word. Malan wag vir julle!

........

Submitted on Thu, 03/04/2021 - 10:04