Kom bymekaar om ’n groeirevolusie in Afrika te laat ontvlam

“Waarom wil ’n mens die wiel van vooraf uitvind wanneer ander soortgelyke uitdagings ervaar, en almal saam daarin kan slaag om ’n groeirevolusie te laat ontvlam?”

Dit is wat die span navorsers van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Optentia-navorsingsfokusarea gedink het toe hulle Namibië besoek het om ’n verhouding met die regering, besighede, arbeid en die NRO’s in daardie land te bou.

“Die beste navorsing word gedoen wanneer navorsers vryelik met mekaar kan saamwerk om hulle kennis en ervaring te bring om ’n bepaalde vraag te beantwoord,” sê prof Ian Rothman, direkteur by Optentia.

“Met hierdie besoek het ons die idee van samewerking oor vakgebiede heen omarm om die dringendste sosio-ekonomiese vrae met betrekking tot Suid-Afrika en die Afrika-vasteland as geheel te beantwoord.”

Soos Suid-Afrika en ander lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), is Namibië se vernaamste uitdagings armoede, ongelykheid en werkloosheid, asook om die geleenthede wat die Vierde Industriële Revolusie bied, te benut.  

“Dit was bemoedigend om te sien dat akademici en navorsers ’n groot behoefte uitspreek om betrokke te raak by samewerkende multidissiplinêre navorsing met hul bure in Afrika, soos Suid-Afrika,” sê prof Rothman.

Die Optentia-afvaardiging het met akademici van die Namibiese Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (NUST) en die Universiteit van Namibië (UNAM) geskakel. Hulle het ook die Ministerie van Arbeid, Bedryfsverhoudinge en Werkskepping, die Ministerie van Sport, die Jeug en Nasionale Diens, die Ministerie van Gesondheid, die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP) en verteenwoordigers van besighede en die arbeidsektor ontmoet.

Die tema van die besoek was “Connecting to ignite a growth revolution in Southern Africa” deur van multidissiplinêre insette gebruik te maak sodat lande hulle potensiaal kan optimaliseer om van onbestendigheid na vermoëndheid oor te skakel.  

Dit was een van Optentia se eerste groot byeenkomste met navorsers en organisasies van buurlande.

“Tot nou toe was die meeste van die eenheid se skakeling na buite met buitengewone professors van buite Afrika. Vrae soos werkloosheid, ongelykheid, armoede en vaardigheidsontwikkeling is vrae wat universeel aan Afrika is, en dus maak dit sin dat verhoudings met navorsers en organisasies van buurlande soos Namibië gesmee word,” sê prof Rothman.

Die idee van ’n groeirevolusie pas goed in by Agenda 2063, die Afrika-Unie se plan om Afrika in ’n wêreldwye reus vir die toekoms te omskep.

Navorsing en verhoudings om vir Agenda 2063 tot voordeel te wees

Agenda 2063 is ’n strategiese raamwerk met die doel om inklusiewe en volhoubare ontwikkeling te skep, en is ’n konkrete manifestering van die Pan-Afrika-strewe na eenheid, selfbeskikking, vryheid, vordering en gedeelde welvaart.

Hoewel heelwat samewerking tussen Afrika-lande en lande buite die vasteland plaasvind, vind baie min samewerking tussen Afrika-lande self plaas. Slegs 18% van die handel in Afrika vind byvoorbeeld tussen Afrika-lande plaas. Hoewel Agenda 2063 ’n sterk agenda vir die toekoms het, vereis dit ook ’n belegging in die skep van kennis wat vir die sosio-ekonomiese konteks van die vasteland sin maak.

Prof Rothman sê dat wanneer hulpbronne saamgevoeg word, werkbare oplossings gesoek kan word om die Agenda 2063-visie te ondersteun.

Hy sien die volgende navorsingsgebiede en projekte as noodsaaklik vir die Namibiese konteks:

  • Werkloosheid onder die jeug (moet werkintervensies, die integrasie van vaardige afgetrede persone in die werkplek as mentors of afrigters, en entrepreneurskap insluit).
  • ’n Ondersoek na die woede van jong werklose mense (moet intervensies insluit om hierdie woede op ’n konstruktiewe manier te kanaliseer).
  • Studies van maniere waarop hoop onder die jeug in Namibië gevestig kan word.
  • ’n Fokus op die indiensneembaarheid van gegradueerdes van UNAM en NUST.
  • ’n Ondersoek oor moontlike intervensies om die implementering, monitering en evaluering van die sogenaamde “silomentaliteit”, veral op ministersvlak, te verbeter.
  • Ekonomiese-impakstudies.


Die verskillende vergaderings en besprekings het reeds positiewe gevolge ten opsigte van toekomstige navorsingsprojekte gehad.

Prof Ansie Fouché, die programleier van die Sterktegebaseerde Studies en Intervensie-subprogram by Optentia, het waardevolle besprekings met maatskaplikewerk-kollegas by UNAM gehad. Hulle ondersoek saam die moontlikheid van ’n gesamentlike navorsingsprojek om ’n terapeutiese riglyn te ontwikkel wat maatskaplike werkers kan gebruik wanneer hulle berading aan kinderslagoffers van seksuele misbruik verskaf.

Net so het dr Rachele Paver, ’n postdoktorale genoot by Optentia, ’n aantal kollegas ontmoet wat baie graag saam met haar aan haar navorsingsprojek wil werk. Dit fokus daarop om die gaping in die arbeidsmark van die werkgewer se kant af kleiner te maak, met ’n spesifieke fokus op die groot bedrywe in elke land.

Samewerking met die UNDP se Accelerator Lab, wat tans op informele nedersettings as die onbestendigste gemeenskappe fokus, is ook op die tafel.

Die Optentia-afvaardiging van links na regs is prof Jaco Hoffman, prof Mirna Nel, dr Rachele Paver, prof Ansie Fouché, prof Lucius Botes, Anjonet Jordaan, Sibusiso Mnxuma, prof Ian Rothmann, dr Zandri Dickason en dr Kleinjan Redelinghuys

Dr Yrika Maritz van die UNDP se Accelerator Lab spreek die Optentia-afvaardiging toe. Onderliggend aan die idee van die laboratorium is die werklikheid dat die uitdagings wat lande ervaar, eksponensieel groei. Die laboratorium bied ’n nuwe benadering tot samewerking met verskillende gemeenskappe om bewysgebaseerde oplossings vir werklike probleme te vind.

Submitted on Fri, 04/24/2020 - 12:22