Kampus loof top- akademiese presteerders

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het hierdie jaar nie net ’n rekordgetal eerstejaarstudente verwelkom nie, maar ook die room van die oes matrikulante uit die Suid-Gautengstreek.

Lede van die kampusbestuur het onlangs tydens ’n feesgeleentheid tyd gemaak om die top-30- akademiese presteerder van die kampus se eerstejaarsgroep te ontmoet.

Prof Linda du Plessis, die adjunk-visekanselier vir beplanning en Vanderbijlparkkampusbedrywighede, het in haar toespraak die studente met hulle prestasie in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen (NSS-eksamen) gelukgewens en hulle gemotiveer om hulle studies met dieselfde entoesiasme en ywer voort te sit.

Sy het hulle ook uitgedaag om volwaardige lede van die kampus te word deur al die geleenthede wat oor hulle pad kom, aan te gryp, hetsy dit op die gebied van georganiseerde studentelewe is, of met geleenthede om hulleself as responsiewe en verantwoordelike lede van die samelewing te verbeter.

Op sy beurt het Teboho Siziba, die voorsitter van die Studente-kampusraad, die studente herinner aan die verskillende ondersteuningsdienste wat tot hulle beskikking is, en hulle aangemoedig om hierdie dienste ten volle te benut. “Met al die ondersteuningsdienste tot julle beskikking kan julle sonder om te aarsel julle akademiese reis met sukses aanpak, en sodoende die pad voorberei om selfs groter hoogtes, soos nagraadse studies, te bereik,” sê Teboho.

Elkeen van die toppresteerders het ’n Rocketbook (ʼn slim-notaboek wat hulle in staat stel om hulle aantekeninge op die internet te stoor) ontvang.

Suene Wucherpfenning en Ané Rademeyer het as die twee topstudente spesiale vermelding ontvang. Suene het haar matriek by Hoërskool Driehoek voltooi en ’n algehele gemiddelde van 87,5% behaal. Ané was ’n leerder by Hoërskool Dinamika en het haar matriekeksamen met ’n gemiddelde van 85,83% geslaag.

Die top-30-leerders het die volgende skole verteenwoordig: Hoërskool Driehoek, Hoërskool Dinamika, Hoërskool Die Anker, Roshnee Islamic School, Hoërskool Garsfontein, Cofimvaba Finishing School, Landulwazi Comprehensive School, Dr Malan Hoërskool, Hoërskool Overvaal, Botoka Technical High School, Sgodiphola Secondary School, Moshate Secondary School, Mahareng Secondary School, Tsholo Secondary School, Hoërskool Transvalia, Falesizwe Secondary School, Vereeniging Gimnasium, en Masisebenze Comprehensive School.

Met sewe onderskeidings is Suene Wucherpfenning die beste presterende student.

Dié toppresteerders het spesiale erkenning gekry tydens die geleentheid.

Submitted on Thu, 03/05/2020 - 15:12