Jo-Ané en Alan is NWU se atletiektrots

Sy is die heersende, verdedigende en onbetwiste spiesgooikampioen van die Noordwes-Universiteit (NWU), en Jo-Ané van Dyk is onlangs weer as die Potchefstroomkampus se Sportvrou van die Jaar aangewys. Dié uitnemende spiesgooier het weereens in 2022 haar staal op die internasionale verhoog gewys, waar sy Suid-Afrika by die Afrikaspele, die Statebondspele en die Wêreldkampioenskap verteenwoordig het.

Die 25-jarige Van Dyk, wat op 3 Oktober haar 26ste verjaarsdag gevier het, het vanjaar tydens die Afrikaspele in Port Louis, Mauritius goud behaal met ʼn gooi van 60,65 m. Haar beste gooi is tans ʼn allemintige 61,61 m.  
Hamergooier Alan Cumming is as Sportman van die Jaar aangewys. Cumming, wat gewis in ʼn ander eeu ʼn gevreesde kryger sou wees, spog met ʼn persoonlike beste gooi van 73 m en is die huidige Suid-Afrikaanse en Afrikakampioen.
Die Sportspan van die Jaar was die NWU Eagles se Sewesspan wat die USSA-kroon verower het en deurgaans een van die top universiteit-sewesspanne in die land was.

Die Junior Sportvrou van die Jaar-toekenning het aan beide hokkiespeler Christa Ramasimong en atleet Karmen Fouché gegaan, terwyl die silhoeëtskut Arno Steyn as Junior Sportman van die Jaar aangewys is.  

 

Athletics news

Wenners! Van links is Sheldon Rostron (sportbestuurder van die Potchefstroomkampus), Alan Cumming, Christa Ramasimong, Karmen Fouché, Jo-Ané van Dyk (Senior Sportvrou van die Jaar), Arno Steyn (Junior Sportman van die Jaar) en dr Sibusiso Chalufu (uitvoerende direkteur van Studentelewe by die NWU). Foto deur Tian du Preez

Submitted on Fri, 10/28/2022 - 18:13