Internasionale erkenning vir een van ons eie

Die Internasionale Unie vir Fisiologiese Wetenskappe (IUPS) bestaan uit talle verenigings en akademici binne die fisiologiese wetenskappe wêreldwyd. Dit is waarom die Fakulteit Gesondheidswetenskappe geweldig trots is daarop dat een van ons eie mense die geleentheid gekry het om ons land by so ’n unie te verteenwoordig.

Dr Lebo Gafane-Matemane is deur die sekretariaat van die Internasionale Wetenskapraad – Suid-Afrika (International Science Council – South Africa, ISC-SA), wat by die Nasionale Navorsingstigting (NNS) gebaseer is, benoem om vir ’n vierjaartermyn as lid van die IUPS te dien.

“As ’n jong fisioloog voel ek geëerd om onder die akademici te wees wat op die Suid-Afrikaanse nasionale komitee van die IUPS dien om Suid-Afrika se agenda oor fisiologie en streeks- en wêreldwye projekte wat met die ISC belyn is, te bevorder,” sê dr Gafane-Matemane.

Die missie van die IUPS is om die studie van fisiologie wêreldwyd te bevorder, met ’n visie dat die IUPS wêreldwyd met fisiologiese verenigings en ander organisasies sal saamwerk om inisiatiewe te fasiliteer wat die vakgebied van fisiologie sal versterk.

As ’n komiteelid sal dr Gafane-Matemane se rol behels dat Suid-Afrika se posisie op internasionale forums bevorder moet word. “Die eerste stap is om die sigbaarheid van die komitee te verhoog deur by nasionale en streeks- fisiologieverenigings se aktiwiteite betrokke te raak. Dit sal betrokkenheid by die Suid-Afrikaanse kundiges in fisiologie bevorder en moontlik hulle deelname by die IUPS en die ISC se netwerke en projekte verhoog,” sê dr Gafane-Matemane verder.

Prof Awie Kotzé, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, het haar met hierdie prestasie gelukgewens. “Dit is ’n duidelike erkenning van haar nasionale en internasionale status. Die fakulteit is trots op haar en wens haar net die beste vir die nuwe taak toe,” sluit hy af.

Caption: Dr Lebo Gafane-Matemane van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe het op internasionale vlak haar stempel afgedruk.

........

Dr Lebo Gafane-Matemane from the Faculty of Health Sciences is making her mark internationally.

Submitted on Thu, 08/05/2021 - 11:47