Internasionale ekonometriekundige gaan hoofrede lewer by Sosiale Wetenskappe-konferensie

Die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus (NWU Vaal) vat hande met die Sosiale Wetenskappe-navorsingsvereniging in Turkye om later vanjaar die 8ste Internasionale Konferensie oor Sosiale Wetenskappe (ICSS) aan te bied.

Die konferensie sal van 23-25 Augustus 2017 in Durban gehou word en sal deur afgevaardigdes van regoor die wêreld bygewoon word terwyl globale kundiges hul sienings sal deel oor die impak en belangrikheid van sosiale wetenskappe. Een so ʼn kundige is prof Pat Obi.


Prof Pat Obi
Professor Pat Obi is ʼn professor verbonde aan die Purdue Universiteit in Hammond in die Verenigde State. Hy het sy doktorsgraad in Finansies en Ekonometrie aan die Universiteit van Mississippi behaal en is ʼn Gesertifiseerde Hotelbedryf-analis (CHIA), ʼn kwalifikasie wat hy in 2016 verwerf het. Hy is tans die direkteur van die Uitvoerende MBA-program aan Purdue Universiteit, waar hy ook kursusse aanbied in korporatiewe finansies, afgeleide instrumente, en kwantitatiewe metodes.

In die nasleep van die Januarie 2010-aardbewing in Haïti was prof Obi lid van ʼn span Amerikaanse akademici wat jaarliks vrywillige onderrighulp verskaf by die Université Nouvelle Grand’Anse in Jérémie, Haïti. By verskillende geleenthede sedert 1995 was hy ʼn internasionale besoekende wetenskaplike by verskeie universiteite, insluitende: Vytautas Magnus Universiteit (Litaue) Vilnius Tegniese Universiteit (Litaue), Kyung Hee Universiteit (Suid-Korea), Khon Kaen Universiteit (Thailand) en Ghana Instituut vir Bestuur en Openbare Administrasie.

Benewens die feit dat hy dien op die rade van verskeie organisasies in die Chicago-distrik doen prof Obi ook konsultasiewerk vir besighede en plaaslike regerings in die Verenigde State oor kwessies met betrekking tot waardasie, finansiële beplanning en finansiële prestasie. Hy bied ook gereeld finansiële werkswinkels aan by gemeenskapsentrums en besighede, veral in die gasvryheidsbedryf.
Afgesien van talle onderrigtoekennings kan prof Obi ook spog met verskeie navorsingstoekennings, met inbegrip van ʼn navorsingstoekenning van die Academy of Finance, die Institute for Global Business and Finance, die Association for Global Business, en Applied Business Research. Prof Obi het meer as 70 publikasies en dien op die redaksies van vyf akademiese tydskrifte. Hy is die outeur van: “Basics of Business Finance” en “We Must Change the Way We Live”.

Meer oor die ICSS-konferensie
ICSS is ʼn platform vir individue wat geïnteresseerd is in alle vakgebiede van sosiale wetenskappe; as sodanig fokus die konferensie op dissiplines soos ekonomie, entrepreneurskap, korporatiewe en openbare bestuur, politieke wetenskappe en sosiologie – om maar net enkeles te noem.

Deur middel van die ICSS-konferensie beoog die organiseerders om ʼn wye gehoor van akademici, beleidmakers en praktisyns byeen te bring rondom duidelik gedefinieerde onderwerpe, in gesprek te tree met deelnemers, en wedersydse begrip te fasiliteer. ʼn Addisionele doelwit van die konferensie is om ʼn plek te verskaf vir lede van die akademie en beroepslui met interdissiplinêre/multidissiplinêre belangstellings met betrekking tot sosiale wetenskappe om te ontmoet en interaksie te hê met lede binne en buite hul eie spesifieke dissiplines.

Referate wat deur ʼn dubbelblinde ewekniehersieningsproses is en aanvaar is, sal in een van die volgende e-joernale gepubliseer word:
•    International Journal of Social Sciences and Humanity Studies
•    International Journal of Economics and Finance Studies
•    International Journal of Business and Management Studies
•    International Journal of eBusiness and eGovernment Studies

Vanjaar sal prof Herman van der Merwe – uitvoerende dekaan van die Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie, en prof Babs Surujlal – Direkteur: Navorsingsontwikkeling, beide van die NWU, as medevoorsitters van die konferensie dien. Die derde medevoorsitter van die konferensie is prof Can Aktan – Voorsitter: Sosiale Wetenskappe-navorsingsvereniging, Turkye.
Vir verdere inligting, besoek gerus die ICSS-webwerf: http://www.icssconference.net/


Prof Pat Obi

 

Submitted on Wed, 03/08/2017 - 09:48