Graad 10 SETH-leerders ondersoek beroepshigiëne op ’n praktiese wyse by die NWU

’n Groep graad 10-leerders van die SETH Academy by die Hoërskool Ferdinand Postma het op 10 April 2025 die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) vir ’n praktiese ervaring van beroepshigiëne besoek. Die sessie, wat deur die Beroepshigiëne en Gesondheid-navorsingsinisiatief (OHHRI) aangebied is, het aan die leerders die kans gebied om eerstehands te ervaar hoe beroepshigiëniste ’n lewensbelangrike speel om ’n gesonde werksomgewing in stand te hou.

Die leerders is deur ’n reeks eksperimente geneem waar hulle gespesialiseerde instrumente gebruik het om gewone items vir lood- en nikkelinhoud te toets. Die praktiese aktiwiteite het hulle nuuskierigheid geprikkel en ’n unieke geleentheid verskaf om die wetenskap wat hulle leer in aksie te sien. Die ervaring het vir hulle ’n grondige begrip gegee van hoe die omgewing in werkplekke – van kantore tot fabrieke – ’n mens se gesondheid direk kan beïnvloed. Die sessie was insiggewend maar prettig, en almal was betrokke. Dit is ’n wonderlike voorbeeld van hoe ervaringsleer jong mense kan inspireer om loopbane te volg wat ’n werklike verskil in die wêreld maak.

“Die leerders het die sessie terdeë geniet en dit baie insiggewend gevind,” sê ’n verteenwoordiger van die SETH-program. “Ons waardeer die samewerking wat ons deurlopend van die NWU kry, en die werk wat me Ansulé Engelbrecht en mnr Clyde Uren gedoen het, was baie waardevol om van hierdie sessie so ’n sukses te maak.”

Die NWU se Fakulteit Gesondheidswetenskappe en die OHHRI waardeer hierdie soort betrokkenheid by skole en gemeenskappe. Daar is ’n behoefte aan praktiese leerervarings wat die gaping tussen teoretiese kennis en die praktiese toepassing daarvan oorbrug. Deur sulke geleenthede aan te bied, hoop die NWU om ’n volgende geslag vakkundiges voor te berei wat uitstekend toegerus sal wees om harde werklikhede en werklike uitdagings in die gesondheid- en veiligheidsektor die hoof te bied.

Submitted on Thu, 04/24/2025 - 15:50