Gemeenskapsuitreiking 2017 – eerstejaarstudente gee hulle tyd en harte

Vir sommige mense is vrywilligerwerk en gemeenskapsdiens ’n opsionele ekstra – iets wat jy doen wanneer jy tyd en bykomende hulpbronne tot jou beskikking het. Dit is nie die geval op die Vanderbijlparkkampus van die Noordwes-Universiteit nie.

Verbeel jou: 800 eerstejaarstudente uit alle vlakke van die samelewing wat sing en glimlag terwyl hulle vloere vee, etes voorberei, kleintjies vermaak, en senior burgers by verskeie ouetehuise besoek.  Dit is presies hoe ’n groot groep van die nuwe inname van eerstejaarstudente hulle eerste naweek by hulle nuwe akademiese tuiste deurgebring het.  Die eerstejaars, in groepe van hulle onderskeie koshuise, saam met die Kampus Verteenwoordigende Studenteraad (KVSR), het verskeie liefdadigheidsorganisasies besoek:

  • Vukuzenzele-ouetehuis, Sebokeng
  • Sebokeng-ouetehuis
  • Lost People’s Bureau, Sebokeng
  • Nyakallong-tuiste vir gestremdes, Sebokeng
  • Musapatsela-ouetehuis, Evaton
  • Ebenezer-tuiste, Evaton
  • Katleho-tuiste vir gestremdes, Evaton

Volgens mnr Jacob Simango, Direkteur van Studentebetrokkenheid en Leierskap (SEAL), is gemeenskapsdiens belangrik omdat dit aan studente ’n geleentheid verskaf om die werklikhede van minderbevoorregtes te ervaar, terwyl hulle ook op ’n positiewe manier lewens kan raak. “Die wete dat jy deur eenvoudige optrede ’n impak op iemand anders se lewe kan maak, maak gemeenskapsdiens nie net ’n lonende ervaring nie, maar laat ’n mens ook baie trots voel,” sê Simango.  Hy is ook van mening dat gemeenskapsdiens aan studente geleenthede verskaf om aktief in die gemeenskap te wees, en só positiewe bydraers tot die samelewing te word.

“Deelname aan gemeenskapsdiensaktiwiteite verbeter studente se CV’s deurdat hulle, voordat hulle hulle grade verwerf, werksverwante vaardighede opdoen wat aan hulle goeie verwysings ten opsigte van gemeenskapsbetrokkenheid aan werkgewers verskaf, asook dat hulle ’n geleentheid kry om netwerke met potensiële toekomstige werkgewers te vorm. Studente ontwikkel ook burgerlike en maatskaplike verantwoordelikheidsvaardighede en word meer bewus van die behoeftes van hulle gemeenskappe,” sê Simango.

 

Submitted on Wed, 02/01/2017 - 12:13