Bertie Jacobs
Daar is 23 meter tussen die brug en die water van die Vaalrivier net buite Bothaville. Die val het net meer as twee sekondes geduur. Dit is twee sekondes wat op 8 Augustus 2020 Brandon Moolman se lewe onherroeplik verander het. Voor hy spontaan besluit het om – met sy vriende langs hom – daardie agtermiddag van die brug af te spring, het hy sy liefde vir hokkie as afrigter by Hoërskool Transvalia uitgeleef. Hy het net ’n paar dae tevore gehoor dat hy sy BCom-graad in Ekonomie en Internasionale Handel by die Noordwes-Universiteit (NWU) geslaag het. Jonk en gesond. Al die lewenslus in die wêreld. Twee sekondes later was hy op 24-jarige ouderdom ʼn kwadrupleeg.
Dit is nou amper twee jaar vandat Brandon sy nek gebreek het en 147 dae in waakeenhede en in rehabilitasie moes spandeer: Vrydag 1 April 2022. “Ja, kyk, niks pla mos vir Brandon nie,” sê sy pa, dr Leon Moolman, ʼn senior dosent in Arbeidsverhoudinge op die NWU se kampus in Vanderbijlpark. Brandon was die vorige paar dae in die hospitaal met ʼn nierpypinfeksie en daardie middag beaam hy sy pa se sentiment. “Nee, niks kry my onder nie.”
Hy is onlangs as die afrigter van die tweede manshokkiespan op die kampus in Vanderbijlpark aangestel en dit is ʼn rol wat hy terdeë geniet. As uithalerspeler wat die Suid-Afrikaanse junior skolehokkiespan verteenwoordig het en ’n begaafde afrigter, is die hokkieveld sy tuiste en hy kan nie oor sy tuiskoms uitgepraat raak nie.
“Dit is ongelooflik dat ek weer my passie kan uitleef,” vertel Brandon, wat in Junie sy 26ste verjaarsdag vier. “Ek speel al hokkie vandat ek 10 jaar oud is. Die hokkieveld is waar ek van alles vergeet. As ek op skool of op universiteit stres ervaar het, het ek hokkieveld toe gegaan. Dit is waar ek my beste self kan wees.”
Positiwiteit vanself, soos sy pa mos gesê het.
“Ek het in rehabilitasie gesien hoe daar mense is wat net hulle nekke kan beweeg. Dit kon erger gewees het. Dieselfde kon met my gebeur het. Ek kon dood gewees het,” vertel Brandon wat steeds gebruik van sy nek, skouers, biseps en gewrigte het. Dit is sowat 15% van sy liggaamsgebruik.
Maar hoe dan gemaak met beweeglikheid op die oefenveld? Hy is immers aan sy rolstoel gebonde.
Ontmoet die nou 20-jarige Chin-Lee van den Berg. In 2020 het die Vaalweekblad, die Vaaldriehoek se grootste gemeenskapskoerant, oor Brandon se tragiese ongeluk berig. Chin-Lee het die artikel op Facebook gesien, vir Brandon gekontak en hom sterkte met sy herstelproses toegewens. Die twee het begin gesels en vandag is hulle reeds ʼn jaar lank in ʼn verhouding.
Tydens afrigtingsessies gee hy leiding en wenke terwyl Chin-Lee sy instruksies uitvoer. Dit is ʼn gedugte kombinasie en sy span gedy danksy hulle vennootskap. Hulle vooruitsig vir die seisoen lyk goed en hy hoop dat die span ʼn liga sal kan opskuif.
Daarbenewens het Brandon ʼn spesiale padfiets waarmee hy oefen en mededingend wil deelneem. Hy sê gereeld vir homself dat ongeag die struikelblokke, en wat ook al die lewe na jou kant toe kan gooi, jy dit kan oorwin.
“Daar sal altyd goed in jou pad wees wat erg lyk. ’n Mens moet jou kop omhoog hou en nie net op die negatiewe dinge fokus nie.”
Hy wil graag ʼn motiveringspreker word en indien sy gehoor eendag sy voorbeeld volg, wag daar ʼn verrykende lewe op hulle.
Besig met wat hy die beste ken: Brandon in afrigter-gewaand.
Brandon Moolman en Chin-Lee van der Berg.