Franick en Winé – vinkel en koljander vang graad

ʼn Tweeling trek altyd aandag, en so is dit ook die geval met Franick en Winé Steyn. Vyftien jaar nadat dié twee graad 1 saam aangedurf het, het die susters onlangs ook hul gradedag saam gevier tydens die herfsgradeplegtigheid op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark.

Wat die omvang van die twee se prestasie nog meer spesiaal maak, is dat die 22-jarige nie-identiese tweeling albei hulle grade met onderskeiding behaal het.

Franick het ʼn BCom in bedryfsielkunde en mensehulpbronbestuur verwerf, terwyl Winé haar BCom Geoktrooieerde Rekenmeesterskap ingepalm het. Die susters is tans vir hulle nagraadse studies by die kampus ingeskryf.

Volgens Winé is daar ʼn tong-in-die-kies voorspelling in hulle familie dat sy en Franick nog eendag kantoorspasie sal deel. “Ons jonger suster, Kisia (19) het ʼn neus vir besigheid; daarom is die voorspelling dat die drie van ons eendag die besigheidswêreld saam sal gaan aanpak. Kisia het die kop vir besigheid, ek is die boekhouer en Franick, die mensehulpbronbestuurder,” verduidelik Winé met ʼn glimlag.

Totdat hierdie voorspelling waar word, al dan nie, sien die tweeling reeds uit na die volgende gradedag wat op hulle wag wanneer hulle die volgende been van hulle studies aan die einde van die jaar voltooi.

Franick en Winé Steyn.

 

 

Submitted on Fri, 05/03/2019 - 08:37