Eagles vlieg hoog in eerste vyf Varsity Netbal-rondtes

Die Noordwes-Universiteit se Eagles het hulle 2021 Varsity Netbal-veldtog goed begin. Die voormalige kampioene, wat deur Elsunet du Plessis afgerig word, het hulle toernooi baie goed afgeskop deur die eerste vier van hulle vyf wedstryde te wen.

In ’n verkorte toernooi, wat in ’n bioborrel in Stellenbosch gespeel word, is dit so intens as wat dit kan kom. Op Maandag 23 Augustus was dit Maties wat breed geglimlag het toe hulle die besoekers met 71–60 ore aangesit het. Op Woensdag 25 Augustus het die Eagles vir TUT met 69–40 getroef nadat hulle ’n dag tevore die Universiteit van Johannesburg naelskraap met 68–63 gewen het.  

Voor dit het die Eagles ’n massiewe 82–33-oorwinning oor die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) behaal in wat ’n perfekte opvolg was op hulle 73–64-oorwinning oor die verdedigende kampioene, UP-Tuks.

Die Eagles beklee nou die tweede posisie op die algehele puntelys met 21 punte. Boaan die puntelys is die onoorwonne Maties met 25 punte, en die Universiteit van die Vrystaat is derde met 20 punte.

Submitted on Fri, 08/27/2021 - 15:48