Eagles kelder Madibaz

Bertie Jacobs

’n Arend het nie slagtande nie – kloue wel. Maar, sou die NWU Eagles eersgenoemde gehad het, sou hulle dié weliswaar ook in die NMMU Madibaz ingeslaan het. Die Eagles het Maandagaand op die Fanie du Toit-sportterrein hulle besoekers van Gqeberha met 61–26 afgeransel.

Agterlangs was die Eagles so giftig soos gaboenadders en voorlangs, met flank Chris Vermaak en sy twee drieë aan die spits, was hulle iets ysliks.

Mooi man. Die Eagles het gewis voor die afskop die teeblare gelees en besluit om hulle lot in hulle eie hande te neem. Hulle nege drieë, wat ʼn strafdrie ingesluit het, beteken dat die Eagles nog ʼn kans het om die uitspeelrondtes te haal.

Die Eagles beklee tans die sesde posisie op die algehele punteleer, met kragmetings teen die SUT Ixias in Bloemfontein en Wits in Potchefstroom wat nog wag. Die SUT kon nog nie vanjaar ʼn wen smaak nie terwyl Wits, net soos die Eagles, ná sewe kragmetings met vier seges spog.

ʼn Week tevore het die Eagles as gevolg van ʼn gros onnodige foute met 20–12 teen Maties in Stellenbosch vasgeval. Wat sou ʼn wen in daai geweste nie vir die Eagles se pad vorentoe beteken het nie?  

....

Foto: Asem Engage/Barco Greeff

Submitted on Tue, 03/29/2022 - 13:56