Eagles deur na Varsity Netbal-finaal

Hulle was slaggereed! Hulle het ons egter ook laat naels kou. Die Noordwes-Universiteit (NWU) Eagles het op Maandag 10 Oktober die verdedigende kampioene, Kovsies, ore aangesit om na die 2022 Varsity Netbal-finaal deur te dring.  

Die Eagles moes egter in Bloemfontein uithaal en wys om ’n 64–61-wentelling aan te teken teen dieselfde opponente wat hulle ’n week tevore gewen het. Afrigter Elsunet du Plessis was waarskynlik bekommerd terwyl die wedstryd aan die gang was, want die Eagles het eers toe daar omtrent tien minute speeltyd oor was vir die eerste keer voorgeloop.

Die vindingryke Du Plessis het egter nog iets in haar arsenaal gehad, en ’n verandering in taktiek het die knoop vir die besoekers deurgehaak.

Proteas-ster Elmere van den Bergh was uitstekend, soos sy meer dikwels is, en haar reputasie neem net toe.

Die Eagles kom nou op 17 Oktober in Stellenbosch teen Maties in die finaal te staan, nadat die Maroen Masjien UJ op eersgenoemde se tuisbaan met 43–35 kafgedraf het. Maties is die enigste onoorwonne span in die toernooi met sewe oorwinnings, terwyl die Eagles vyf van hulle wedstryde gewen het. Die laaste keer toe die twee spanne teen mekaar te staan gekom het, was in rondte vyf, toe Maties in Potchefstroom met 56–51 geseëvier het.

Om teen Maties op Coetzenburg te staan te kom, gaan nog ’n groter toets wees as die een wat verby is, maar as die Eagles hulle kant bring, sal die oorwinning soveel soeter wees.  

Dit is die vyfde keer dat die NWU Eagles in die finale rondte speel, en hulle hoop om nog ’n titel te voeg by die twee wat hulle in 2015 en 2016 verwerf het.

...

Wat ʼn wen! Foto: Asem Engage

Submitted on Wed, 10/12/2022 - 14:20