Duisende word by die NWU se uitreiksentrums ingeënt

Die Covid-19-inentingsveldtog in Suid-Afrika het ’n hupstoot gekry met duisende lede van die publiek, insluitende personeellede van die Noordwes-Universiteit (NWU), hulle gades en lewensmaats, wat die afgelope naweek (16 tot 18 Julie) hulle inentings ontvang het.

’n Inentingsveldtog het by twee NWU-sentrums – die Great Hall in Mahikeng en die Dampad-eetsaal in Potchefstroom – plaasgevind. Hierdie sentrums is deur Noordwes se provinsiale regering as inentingsuitreiksentrums geïdentifiseer.

’n Totaal van 1 200 dosisse van die Johnson & Johnson-entstof is in Mahikeng aan ontvangers in die ouderdomsgroep 35 jaar en ouer toegedien, en in Potchefstroom is 2 008 dosisse Pfizer-entstof toegedien. As gevolg van die feit dat die Vanderbijlparkkampus in Gauteng geleë is, kon die ooreenkoms ongelukkig nie hierdie kampus insluit nie, maar personeellede en hulle gesinne wat na Potchefstroom gereis het, is by daardie sentrum gehelp.

Die inentings was oorspronklik net vir geregistreerde NWU-personeellede, hulle gesinne en huishulpe bedoel, maar namate die inligting mondelings en deur sosiale media versprei is, het talle lede van die publiek wat geregistreer is om inentings te ontvang, ook in die tou kom staan. 
 
Hope positiewe terugvoer

Prof Awie Kotze, dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, wat in beheer was van die inentingsveldtog, sê hulle het by die sentrums asook op sosiale media positiewe terugvoer van personeel en gemeenskapslede ontvang.

“Dit was wonderlik om die passie, doeltreffendheid en vriendelikheid te ervaar van elke persoon wat by hierdie veldtog betrokke was. Dit was so bemoedigend om te sien hoeveel mense gekom het om ingeënt te word, en om die positiwiteit regdeur die hele naweek te ervaar.

“Dit is baie harde werk om groot getalle mense in te ent, en dit verg absolute toewyding van almal wat betrokke is. Ons is baie trots op almal wat by die naweek se veldtog betrokke was.”

Hy sê dat die NWU in ’n relatief kort tyd die noodsaaklike diens kon verskaf om in die behoeftes van Suid-Afrika te voorsien. “Die goeie samewerking met Noordwes se provinsiale regering het ons in staat gestel om hierdie diens doeltreffend te lewer.”

Deel van ’n groter netwerk

Prof Awie sê dat die NWU se sentrums deel is van sewe sentrums vir massa-inentings in die provinsie. “Ons het die eerste sentrums geopen en verteenwoordigers van ander sentrums wat binne die volgende paar dae in werking sal tree, het reeds gereël om die NWU te besoek om te sien hoe ons dit doen.  Ander sentrums sal Klerksdorp en Rustenburg insluit.”

Prof Dan Kgwadi, visekanselier, het al die NWU-personeel,  studente en belanghebbers bedank dat hulle as vrywilligers by die sentrums gewerk het.
“Ons as die NWU-familie is trots op die wonderlike werk wat gedoen is om te verseker dat almal wat gekwalifiseer het, hulle inentings ontvang.  Met hierdie mate van toewyding en doeltreffendheid lewer ons as die NWU-familie ’n groot bydrae om die pandemie te help hanteer.”

Hy sê dat die NWU-familie se harde werk tydens die inentingsveldtog ’n voorbeeld is van die universiteit se sorgsaamheidsetiek en diepe verbintenis tot gemeenskapsbetrokkenheid.

NWU-familie maak die inentingsveldtog ekstra spesiaal

Die positiewe gees wat die inentingsveldtog omring het, het talle bemoedigende inisiatiewe ingesluit.

Dit sluit in die kantoor van die NWU se gelukbringer, Eagi, wat meer as 30 komberse gebring het om vrywilligers warm te hou, en die Thuso Covid-19 Compliance Buddies wat onder leiding van Juan-Ri Potgieter hulle deel as vriendelike en doeltreffende toesighouers gedoen het.

’n Spesiale kinderoppasdiens was ook een van die hoogtepunte, waar ouers hulle kinders in die veilige sorg van vrywilligerstudente in Maatskaplike Werk en Sielkunde kon laat terwyl hulle hulle inentings ontvang het.

Lede van die gemeenskap het ter viering van Mandeladag ook bydraes gemaak. Dit het ingesluit dat Fruit Hub as gebaar van dankbaarheid bokse vrugte aan werkers by die inentingsentrum in Mahikeng geskenk het.

“Dit is baie belangrik om teen Covid-19 ingeënt te word. Ons werk aan soortgelyke projekte vir NWU-personeel en lede van die publiek om by die uitreiksentrums ingeënt te word. Ons sal meer inligting in hierdie verband deurgee,” sê prof Awie.

Klik hier om na 'n video te kyk van die inentingsveldtog by die NWU se twee uitreiksentrums.


Prof Dan Kgwadi and Eagi
Die visekanselier, prof Dan Kgwadi, en Eagi sê dis belangrik om ingeënt te word.

 

Vaccination site Mahikeng Campus
Dit is die NWU-inentingsentrum in Mahikeng.

 

Prof Robert Balfour
Prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir onderrig en leer, ontvang sy inenting op Vrydag 16 Julie.

 

KP Leeuw
KP Leeuw van die Witrand Hospitaal se inentingsentrum was tydens die naweek op diens.

 

Vaccination site Potch Campus
Die NWU-inentingsentrum in Potchefstroom is ’n miernes van bedrywigheid.

 

Prof Awie Kotze
Prof Awie Kotze, prof Anita Wessels, dr Alwiena Blignaut en Johandi Neethling van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe doen hulle deel om te verseker dat die inentings glad verloop.

 

Melvin Diedericks

Melvin Diedericks, ’n dosent in publieke administrasie, ontvang sy inenting van die inenter Beauty Hennicks, terwyl administrateur Kumbewe Liwewe die inligting opteken.

Submitted on Tue, 07/20/2021 - 08:44